Šiauliai
From Wikipedia, the free encyclopedia
Šiauliai (Litaus: [ɕɛʊ̯ˈlʲɛɪ̯ˑ], luister (hulp·inligting); Lets: Šauļi; Duits: Schaulen; Pools: Szawle) is die vierde grootste stad van Litaue na die hoofstad Vilnius, Kaunas en Klaipėda met 'n oppervlakte van 81,13 vierkante kilometer en 'n bevolking van 108 000 (in 2023). Die moderne nywerheidstad is in die noorde van die land teen die oostelike uitlopers van die Žemaitiese heuwelland geleë en word deur drie mere, Talkša, Rėkyvos en Ginkūnai, omring. Šiauliai is vandag ook 'n belangrike kulturele sentrum wat staan 'n aantal musea veral vir die Heuwel van Kruise, 'n Rooms-Katolieke bedevaartsoord in die omgewing, bekend staan.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Litaue |
Administratiewe gewes | Šiauliai |
Koördinate | 55°56′N 23°19′O |
Stigting (eerste verwysing) | 1236 |
Stadstatus | 1589 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 81,13 vk km |
Hoogte bo seevlak | 151 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2023) | 108 000 |
- Bevolkingsdigtheid | 1 300/vk km |
Tydsone | UTC +2 (OET) |
- Somertyd | UTC +3 (OEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Kontinentaal-gematig |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 7,6°C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | −2,5 / 18,5 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 642,7 mm |
Burgemeester | Artūras Visockas |
Amptelike webwerf | www.siauliai.lt/ |
Šiauliai het al 'n beduidende rol in die Litause geskiedenis gespeel. Op 22 September 1236 het die Lyflandse Ridderorde naby die huidige stad in die Slag van Saulė 'n verpletterende nederlaag teen Litaus-Žemaitiese magte gely. Die stadsnaam is volgens oorlewerings van die Litause saulė ("son") of die woord šaulys ("skutter") afgelei.
Teen die einde van die 18de eeu het talle ambagslui uit Oos-Pruise hulle saam met Silesiese wewers in Šiauliai gevestig, en die plaaslike tekstiel- en leerbedryf het tot die beduidendste sektor van die plaaslike ekonomie ontwikkel. In 1871 is 'n spoorwegverbinding met die Letlandse stad Liepāja gebou.
Die oorspronklike historiese stadskern is in die twee wêreldoorloë byna volledig verniel. Ná 1945 het die Sowjet-owerhede naby Šiauliai een van die grootste militêre lughawens in Oos-Europa opgerig. Vandag, ná Litaue se toetreding tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) in 2004, word NAVO-lugpatrollies oor die Baltiese lande gereeld vanuit hierdie lughawe uitgevoer. Šiauliai beskik daarnaas oor die jongste universiteit in Litaue.