Avalon (skiereiland)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Avalon is 'n groot skiereiland in die Kanadese provinsie Newfoundland en Labrador met 'n oppervlakte van 9 270 vierkante kilometer. Die skiereiland vorm die suidoostelike en mees digbevolkte deel van die eiland Newfoundland en huisves naas die provinsiale hoofstad St. John's ook sowat veertig persent van Newfoundland en Labrador se bevolking.
Die Avalon-landengte met 'n wydte van sowat vyf kilometer, verbind die skiereiland met die hoofdeel van Newfoundland. Avalon strek tot by die visryke sones naby die Grand Banks, en sy vier baaie (Trinity Bay, Conception Bay, St. Mary's Bay en Placentia Bay) is met hulle vissersdorpies die tradisionele sentrum van Newfoundland se visserybedryf. Avalon besit daarnaas belangrike voëlbewaringsgebiede en geskiedkundige nasionale erfenisgebiede soos Cape Spear National Historic Site. Kaap Spear is ook die mees oostelike punt van Noord-Amerika.
Vissery was eeue lank die ekonomiese basis van Avalon se bewoners, maar aangesien die owerhede gedwing was om die kommersiële visbronne deur visvangkwotas te beskerm kan vissers tans nouliks in hul lewensonderhoud voorsien.