Brocken
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Brocken in die Duitse deelstaat Sakse-Anhalt is op 'n hoogte van 1 141 meter bo seevlak die hoogste bergpiek van die Harz-bergreeks tussen die Weser- en Elberiviere in Noord-Duitsland. Die berg lê in die Nasionale Harzpark, en groot dele van die berg is tot natuurbewaringsgebied verklaar.
Brocken | |
---|---|
Ligging | Sakse-Anhalt, Duitsland |
Hoogte | 1 142 meter bo seevlak |
Reeks | Harz |
Koördinate | 51°48′5″N 10°36′53″O |
Eerste bestyging | 1572 |
Alhoewel die berg se hoogte nie vergelykbaar met Alpynse bergspitse is nie, word hy nogtans deur 'n mikroklimaat gekenmerk, wat goed met dié van bergspitse van meer as 2 000 meter vergelyk. Die Brocken is tussen September en Mei met sneeu bedek, en dit word jaarliks op sowat 300 dae deur newel verhul. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is net 2,9 °C.
Die Brocken het altyd 'n belangrike rol in volksverhale en legendes gespeel en word verbind met hekse en duiwels. Die Duitse digter Johann Wolfgang von Goethe het hierdie motiewe vir sy werk Faust gebruik, waarin hy na die bergspits verwys. Die sogenaamde "Brockenspook" is 'n bekende fenomeen op die mistige berg, waar bergklimmers donker skadu's teen die newel werp en spookagtige optiese effekte skep.
Die Brocken maak vandag deel uit van 'n nasionale park en huisves 'n historiese botaniese tuin met bergplante, wat in 1890 gestig is. 'n Smalspoorstoomtrein neem besoekers vanaf die dorp Wernigerode na die stasie op die bergspits. Die berg beskik ook oor 'n groot aantal wandelpaaie. Die bergspits word daarnaas ook gebruik vir die uitsaai van FM-radio- en televisieprogramme. Die ou Sender Brocken is in 1935 as die eerste televisietoring ter wêreld opgerig. Dit beskik oor 'n uitkykdek wat oop staan vir toeriste.