Elandsfontein (plaas)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Elandsfontein is een van die plase waarop woonbuurte aanvanklik op die Witwatersrand aangelê is, naamlik die suidoostelike uithoek van Johannesburg, heelparty voorstede van Alberton en enkele suidelike dele van Germiston.
Elandsfontein het teen 1886 toe goud ontdek is en die Sentrale Rand sy landelike karakter begin verloor het, in werklikheid uit twee dele bestaan: Elandsfontein No. 142 in die suide en Elandsfontein No. 147 in die noorde. Op die noordelike plaas is Bedfordview aanvanklik as kleinhoewes aangelê en Geldenhuis Estate-kleinhoewes genoem. Die naam is op 4 Februarie 1926 na Bedfordview verander na aanleiding van Bedford Farm, sir George Farrar se plaas wat van die voorstad af sigbaar is. Blykbaar is ’n groot deel van Germiston ook op die noordelike Elandsfontein aangelê, en wel in 1887. Die ontluikende stad het tot 1904 as Elandsfontein bekendgestaan, toe die naam amptelik na Germiston verander is, na aanleiding van die geboorteplaas van die goudmynpionier John Jack naby Glasgow in Skotland. Die naam leef voort in verskeie dele van die plaas wat nog nie ontwikkel is nie.