Hydro-Québec
From Wikipedia, the free encyclopedia
Hydro-Québec is 'n aandelemaatskappy in provinsiale besit wat Kanada se Franssprekende provinsie Quebec van elektrisiteit voorsien. Ook die vervoer en verspreiding van krag binne die provinsiale netwerk val onder sy beheer.
Hydro-Québec | |
Tipe | Aandelemaatskappy in provinsiale besit |
---|---|
Gestig | 14 April 1944 |
Hoofkantoor | Montreal, Quebec, Kanada |
Sleutelpersone | Lise Croteau (presidente-directrice générale par intérim / interim-president en hoof uitvoerende beampte) |
Gebied bedien | Quebec |
Industrie | Energieverskaffer |
Produkte | Opwekking van elektrisiteit, transmissie en verspreiding |
Inkomste | CDN$12,23 miljard (2012) |
Bedryfsinkomste | CDN$5,18 miljard (2012) |
Netto inkomste | CDN$0,86 miljard (2012) |
Werknemers | 19 505 (2014) |
Moedermaatskappy | Regering van Quebec |
Webwerf | hydroquebec.com |
Soos die naam al aandui, word krag in Québec veral deur hidroëlektriese kragsentrales opgewek. Die onderneming, waarvan die provinsiale regering van Quebec die enigste aandeelhouer is, het sy hoofkwartier in Montreal.
Met sy altesaam 62 waterkragsentrales is Hydro-Québec die vernaamste elektrisiteitsverskaffer in Kanada asook die wêreld se grootste produsent van hidroëlektriese krag wat naas die inheemse mark ook internasionaal in die groothandelsmark vir elektrisiteit verkoop word. Die beskikbare opwekvermoë van Hydro-Québec se aanlegte, wat in 2014 4,2 miljoen klante van elektrisiteit voorsien het, is 36 643 megawatt (MW).[1]
Die onderneming bevorder ook die ontwikkeling van ander energiebronne soos windenergie en biomassa. So kom 99 persent van alle krag, wat deur Hydro-Québec opgewek word, uit hernieubare energiebronne.[2] Sy kragnetwerk is die mees uitgebreide in Noord-Amerika en voorsien ook klante in aangrensende deelstate van die Verenigde State van elektrisiteit.
Die ontwikkeling en uitbou van hidroëlektriese kragopwekking is binne 'n halfeeu voltooi. In dié tydperk is bestaande aanlegte uitgebrei en nuwe waterkragsentrales gebou, waaronder Bersimis, Beauharnais, Carillon, Manic-Outardes, Churchill Falls en die grootskaalse Baie-James-projek, wat Quebec se afhanklikheid van fossiele brandstowwe aansienlik verminder het.
In 2010 was elektrisiteit die belangrikste primêre energiebron in die provinsie wat 39,3 persent van Quebec se energiebalans verteenwoordig het. Nogtans moes 'n prys betaal word vir dié energie-onafhanklikheid. Die bou en bedryf van groot hidroëlektriese aanlegte het nie net uitwerkings op die natuurlike omgewing in Quebec se Groot Noorde nie, maar het ook 'n impak op die tradisionele leefwyse van die inheemse Indiaanse bevolking wat die verwesenliking van die waterkragprojekte deur die provinsiale regering steeds teengestaan het.
Desondanks het Hydro-Québec sedert sy stigting 'n beslissende rol in die ekonomiese ontwikkeling van Quebec gespeel - deur die omvang en bestendigheid van sy beleggings, deur die groei van die plaaslike siviele ingenieurswese, die verwerwing van tegniese kundigheid en die groei van industriële kontrakteurs, nuwe ervaring wat met die bestuur van grootskaalse projekte en die vervoer van krag oor groot afstande opgedoen is, asook deur sy vermoë en kapasiteit om groot hoeveelhede elektrisiteit teen lae tariewe op te wek.
Die styging van energiekoste, wat teen die begin van die 21ste eeu ondervind is, lae rentekoerse en die bereiking van internasionale konsensus oor die gevare wat globale klimaatsverandering inhou, het 'n positiewe uitwerking op Hydro-Québec se bedryfsinkomste. Tussen 2010 en 2014 het die onderneming dividendes ter waarde van CDN-$ 9,2 miljard aan die provinsiale regering uitbetaal. Gelyktydig waarborg Hydro-Québec vir die provinsiale bevolking, wat gedurende die ysige koue winters merendeels op elektriese verwarmingstelsels aangewese is, stabiele en gelykvormige tariewe wat onder die laagstes in Noord-Amerika gereken word.