Nubië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Nubië is ’n streek aan die Nylrivier in die hedendaagse Noord-Soedan en Suid-Egipte. Dit was die tuiste van een van die vroegste beskawings van antieke Afrika, die Kermakultuur, wat van omstreeks 2500 v.C. bestaan het tot met sy verowering deur die Nuwe Ryk van Egipte onder farao Toetmoses I omstreeks 1500 v.C. Nubië het verskeie Afrikaryke gehuisves, waarvan die bekendste die Koninkryk Koesj is. Laasgenoemde staat het Egipte in die 8ste eeu v.C. verower tydens die bewind van koning Pije en het die land as die 25ste Dinastie regeer. Dit is ’n eeu later deur die inheemse Egiptiese 26ste Dinastie vervang.
Die verval van Koesj in die 4de eeu n.C. ná ’n bestaan van meer as duisend jaar is voorafgegaan deur ’n inval deur Ethiopië se Koninkryk Aksoem. Daarna het die Christelike koninkryke Nobatië, Makoerië en Alodië in sy plek ontstaan. Die twee laastes het ook omtrent ’n millennium lank bestaan. Hulle eindelike verval in die 16de eeu het gelei tot die verdeling van Nubië in die noordelike helfte, wat deur die Ottomaanse Ryk verower is, en die suidelike helfte, wat deur die Sennar-sultanaat oorgeneem is – asook die vinnige islamisering en gedeeltelike arabisering van die Nubiese volk. Nubië is in die 19de eeu herenig. Vandag is die streek tussen Egipte en Soedan verdeel.
Die naam "Nubië" is afgelei van die Noba-volk, wat hulle in die 4de eeu in die streek gevestig het met die val van Meroë.