Rügen
From Wikipedia, the free encyclopedia
Rügen (Duits: [ˈʁyːɡn̩], luister (hulp·inligting); Latyn: Rugia) is die grootste eiland van Duitsland. Dit is in die Oossee geleë en word van die vasteland geskei deur die smal Strelasund en die veel breër Greifswalder Bodden. Die eiland is 926 vierkante kilometer groot en het 77 000 inwoners (2006). Administratief maak die eiland saam met gebiede op die vasteland deel uit van die distrik Landkreis Vorpommern-Rügen wat in 2011 nuut geskep is.[1] Die grootste nedersetting is Bergen. Ander groot plekke is Sassnitz, Binz, Garz en Putbus.
Rügen Inheemse naam: Rügen | |
---|---|
'n Kaart van die Duitse deelstaat Mecklenburg-Voorpommere, met Rügen donker gekleur. | |
Geografie | |
Ligging | Mecklenburg-Voorpommere, Oossee |
Koördinate | 54°25′N 13°22′O
|
Oppervlakte | 926 vk km |
Hoogste punt | Piekberg 161 m |
Administrasie | |
Duitsland | |
Deelstaat | Mecklenburg-Voorpommere
|
Grootste stad | Bergen (14 030)
|
Demografie | |
Bevolking | 77 000
|
Grootste eiland van Duitsland |
Die eiland is aanvanklik deur Germaanse (die naamgewende Oos-Germaanse Rugiërs) en Slawiese stamme bewoon en het daarna agtereenvolgens deel uitgemaak van die hertogdom Pommere, Swede, Pruise en die Duitse Ryk. Na die Tweede Wêreldoorlog was dit deel van die staatsgebied van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR). Met die hereniging van Duitsland in 1990 en die herstigting van federale deelstate in die ooste is dit by Mecklenburg-Voorpommere ingesluit, net soos die kleiner eiland Hiddensee net wes van Rügen.
Rügen is 'n belangrike toeristebestemming en dit het in dié opsig sy teenstander, Sylt, in die Noordsee intussen verbygesteek. In Putbus was daar in 1816 die eerste badplaas. Die eiland is vir 'n groot deel natuurgebied (drie natuurreservate) en het behalwe strande ook hoë krytrotse, byvoorbeeld die Königsstuhl op die eilandgedeelte Jasmund. Die krytrotsformasie Wissower Klinken, wat die Duitse landskapskilder Caspar David Friedrich omtrent 1818 geïnspireer het om sy beroemdste werk te skilder, het op 24 Februarie 2005 weens verwering verbrokkel en in die see gestort. Rügen het oornag een van sy bekendste besienswaardighede verloor.