Rugbywêreldbeker 2015
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 2015 (Engels: 2015 Rugby World Cup; Wallies: Cwpan Rygbi’r Byd 2015) is van 18 September tot 31 Oktober 2015 in Engeland en Wallis beslis. Dit was die agtste rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die vierde in die Noordelike Halfrond. Engeland het voorheen tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en Rugbywêreldbeker 1999 as medegasheer opgetree; albei toernooie is saam met die destydse Vyfnasies Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis aangebied.
Rugbywêreldbeker 2015 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Engeland Wallis |
Datums | 18 September – 31 Oktober |
Aantal nasies | 20 (96 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Nieu-Seeland |
Naaswenner | Australië |
Derde plek | Suid-Afrika |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 48 |
Bywoning | 2 477 805 (gem. 51 621 per wedstryd) |
Drieë | 271 (gemiddeld 5.65 per wedstryd) |
Meeste punte | Nicolás Sánchez (97)[1] |
Meeste drieë | Julian Savea (8)[2] |
← 2011 |
2019 → |
Die toernooi se formaat van 2003, 2007 en 2011 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2015 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2011-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Italië, Nieu-Seeland, Samoa, Skotland, Suid-Afrika, Tonga en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Fidji, Georgië, Japan, Kanada, Namibië, Roemenië, Uruguay en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2015 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2019 in Japan gekwalifiseer het.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2015 is Nieu-Seeland, Australië, Suid-Afrika en Ierland as gunstelinge op die titel beskou.[3] Die verdedigende kampioen Nieu-Seeland het die eindstryd op Twickenham in Londen teen Australië met 34–17 gewen en sodoende sy derde wêreldtitel ingepalm. Daarmee het Nieu-Seeland die eerste nasionale rugbyspan geword wat die beker kon verdedig en ook vir ’n derde keer kon wen.[4] Daarbenewens was dit die tweede eindstryd in dié toernooi se geskiedenis wat twee spanne van die Suidelike Halfrond gesien het, ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika, en die eerste halfeindrondte sonder spanne van die Noordelike Halfrond.[5] Twickenham het ná Edenpark in Auckland die tweede rugbystadion geword wat die rugbywêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 1991-toernooi – gehuisves het.[6] Suid-Afrika het in die derde en Argentinië in die vierde plek geëindig. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel. Vir die eerste keer in dié toernooi se geskiedenis was daar geen debutante nie.
Die wedstryd tussen Japan en Suid-Afrika tydens die openingsnaweek, waarin Japan die beslissende drie in ekstra tyd teen die gunsteling Suid-Afrika kon druk, word algemeen as die “grootste ontsteltenis” in die rugbygeskiedenis beskou.[7] Vervolgens het dié toernooi van die begin af baie media-aandag geniet. Die gasheer Engeland is ná nederlae teen Wallis en Australië reeds in die groepfase uitgeskakel; dit was die eerste keer in die toernooi se geskiedenis wat ’n nominale gasheer nie tot die uitklopfase kon vorder nie. Daarbenewens was Japan, as gevolg van minder bonuspunte, die eerste span met drie oorwinnings wat nie tot die kwarteindrondte kon vorder nie.[8][9]