T20I-wêreldbeker 2009
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2009 (Engels: 2009 ICC World Twenty20) is van 5 tot 21 Junie 2009 in Engeland beslis. Dit was die tweede T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2009 genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions beslis. Saam met die Kampioenetrofee 2009 in September en Oktober in Suid-Afrika was dit een van twee vername kriekettoernooie in dieselfde jaar.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2009 | |
Datums | 5 Junie – 21 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Agt en uitklopfase |
Gashere | Engeland |
Kampioen | Pakistan (1ste titel) |
Naaswenner | Sri Lanka |
Deelnemers | 12 (16 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 27 |
Speler van die reeks | Tillakaratne Dilshan |
Meeste lopies | Tillakaratne Dilshan (317)[1] |
Meeste paaltjies | Umar Gul (13)[2] |
← 2007 2010 → |
Die toernooi se formaat van 2007 het onveranderd gebly en twaalf nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2009 deelgeneem: Nege van die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië), saam met die wenners van die kwalifisering (Ierland en Nederland). Nadat die Zimbabwiese span onttrek het,[4] kon die derdeplekspan tydens die kwalifisering Skotland ook aan die toernooi deelneem. Tydens die T20I-wêreldbeker 2009 is 27 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, twaalf in die Super Agt en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van drie spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer. In die Super Agt is die spanne in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Pakistan het Suid-Afrika en Sri Lanka het Wes-Indië geklop, waardeur die twee Suid-Asiatiese spanne Pakistan en Sri Lanka in die eindstryd ontmoet het. Pakistan het Sri Lanka in die eindstryd op Lord’s in Londen met agt paaltjies verslaan en sodoende sy eerste T20I-wêreldbekertitel ingepalm.[5] Saam met hul oorwinning tydens die Krieketwêreldbeker 1992 was dit Pakistan se tweede internasionale kriekettitel. Beide die gasheer Engeland en die verdedigende wêreldkampioen Indië is in die Super Agt uitgeskakel.