Barbaryse Oorloë
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Barbaryse Oorloë was ’n reeks konflikte wat gelei het tot twee oorloë tussen die Verenigde State, Swede en die Barbaryse state (Marokko en die Ottomaanse Ryk, insluitende Tunis, Algiers en Tripoli) van Noord-Afrika vroeg in die 19de eeu. Die Swede was sedert 1800 in ’n oorlog met Tripoli betrokke; die Amerikaners het eindelik by hulle aangesluit.[1]
Die Barbaryse seerowers het heffings van die Amerikaanse handelskepe in die Middellandse See geëis. As ’n skip nie betaal het nie, het die seerowers dit aangeval, sy voorraad gesteel en dikwels die bemanningslede vir ’n losprys gevange geneem. Toe Thomas Jefferson in 1801 president van die VSA word, het hy geweier om heffings te betaal en ’n vloot na die Middellandse See gestuur.