FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1974
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die tiende FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Duits: Fußball-Weltmeisterschaft 1974; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 13 Junie tot 7 Julie 1974 in Wes-Duitsland (BRD) aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Wes-Duitsland aangebied is en die sesde in Europa. Ná die Olimpiese Somerspele 1972 in München was die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1974 die tweede groot sportkompetisie in Wes-Duitsland.
Fußball-Weltmeisterschaft 1974 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Wes-Duitsland |
Datums | 13 Junie – 7 Julie |
Spanne | 16 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 9 (in 9 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Wes-Duitsland (2 titels) |
Tweede plek | Nederland |
Derde plek | Pole |
Vierde plek | Brasilië |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 38 |
Doele | 97 (2.55 per wedstryd) |
Bywoning | 1 865 762 (49 099 per wedstryd) |
Meeste punte | Grzegorz Lato (7 doele)[1] |
Beste speler | Johan Cruijff |
← 1970 1978 → |
16 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1974 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die tweede rondte deurgedring het. Die boonste spanne van albei groepe het in die eindstryd ontmoet, terwyl die tweede spanne in die klein finale gespeel het. Wes-Duitsland het die trofee gewen nadat hulle Nederland met 2–1 in die eindstryd geklop en sodoende hul tweede wêreldbekertitel ingepalm het. Wes-Duitsland het daarmee die eerste land geword wat die nuwe FIFA Wêreldbekertrofee verower het, nadat die Jules Rimet-trofee tydens die vorige FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1970 permanent aan die driemalige kampioen Brasilië oorhandig is. Wes-Duitsland was ook die vierde gasheer ná Uruguay in 1930, Italië in 1934 en Engeland in 1966 wat die toernooi gewen het. Pole het in die derde en die verdedigende kampioen Brasilië in die vierde plek geëindig.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van Australië, Haïti, Oos-Duitsland (DDR) en Zaïre (nou die Demokratiese Republiek die Kongo) het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem.
Dit was die enigste verskyning van die Oos-Duitse nasionale sokkerspan by ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi. Oos- en Wes-Duitsland was volgens loting in dieselfde groep en die Oos-Duitsers kon tydens dié toernooi as enigste span daarin slaag om die gasheer en latere kampioen Wes-Duitsland te klop. Albei Duitse nasionale sokkerspanne het van die eerste na die tweede rondte deurgedring, maar die DDR is sonder oorwinnings uitgeskakel, terwyl die BRD al sy drie wedstryde gewen en tot die eindstryd deurgedring het.