FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die elfde FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Spaans: Copa Mundial de Fútbol – Argentina ’78; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 1 tot 25 Junie 1978 in Argentinië aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Argentinië aangebied is en die vierde in Suid-Amerika.
Copa Mundial de Fútbol – Argentina ’78 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Argentinië |
Datums | 1 Junie – 25 Junie |
Spanne | 16 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 6 (in 5 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Argentinië (1 titel) |
Tweede plek | Nederland |
Derde plek | Brasilië |
Vierde plek | Italië |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 38 |
Doele | 102 (2.68 per wedstryd) |
Bywoning | 1 545 791 (40 679 per wedstryd) |
Meeste punte | Mario Kempes (6 doele)[1] |
Beste speler | Mario Kempes |
← 1974 1982 → |
16 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die tweede rondte deurgedring het. Die boonste spanne van albei groepe het in die eindstryd ontmoet, terwyl die tweede spanne in die klein finale gespeel het. Argentinië het die trofee gewen nadat hulle Nederland met 3–1 in die eindstryd geklop en sodoende hul eerste wêreldbekertitel ingepalm het. Argentinië was ook die vyfde gasheer ná Uruguay in 1930, Italië in 1934, Engeland in 1966 en Wes-Duitsland in 1974 wat die toernooi gewen het. Brasilië het in die derde en Italië in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Wes-Duitsland is in die tweede rondte uitgeskakel.
Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978 is beslis tydens die militêre diktatuur wat in 1976 tydens ’n staatsgreep aan bewind gekom het. Dié regse militêre diktatorskap is vir die ontvoering en verdwyning van sowat 30 000 mense tydens ’n soort burgeroorlog teen linkse guerillas en intellektuele verantwoordelik. Die destydse Argentynse bewind het die toernooi vir die tentoonstelling van ’n “suiwer Argentinië” misbruik en dit het ná die titelverowering net ’n kort tyd van gewildheid onder Argentyne geniet.[2]
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van Iran en Tunisië het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit was die laaste toernooi met die oorspronklike aantal van 16 nasionale sokkerspanne; vir die volgende FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982 in Spanje is die aantal na 24 verhoog.