FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1994
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 15de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Engels: World Cup ’94) is vanaf 17 Junie tot 17 Julie 1994 in die Verenigde State aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in die Verenigde State aangebied is en die derde in Noord-Amerika. Dié toernooi was die finansieel suksesvolste in die Sokker-Wêreldbekertoernooi-geskiedenis; dit het die gemiddelde bywoningsrekord met amper 69 000 toeskouers per wedstryd gebreek, ’n rekord wat nog steeds geldig is.[2]
World Cup ’94 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Verenigde State |
Datums | 17 Junie – 17 Julie |
Spanne | 24 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 9 (in 9 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Brasilië (4 titels) |
Tweede plek | Italië |
Derde plek | Swede |
Vierde plek | Bulgarye |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 52 |
Doele | 141 (2.71 per wedstryd) |
Bywoning | 3 587 538 (68 991 per wedstryd) |
Meeste punte | Hristo Stoichkof Oleg Salenko (6 doele elk)[1] |
Beste speler | Romário |
← 1990 1998 → |
24 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1994 deelgeneem. Die spanne is in ses groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep en die vier beste derde plek spanne na die agtste eindrondte deurgedring het. Brasilië het die trofee gewen nadat Roberto Baggio van Italië die laaste strafskop in die eindstryd van Pasadena naby Los Angeles, Kalifornië, misgeskop en sodoende hul vierde wêreldbekertitel ingepalm het, die eerste nasie wat daarin geslaag het. Dit was die eerste eindstryd van ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi wat deur strafskoppe beslis is. Met die verowering van die wêreldbekertitel het Brasilië regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 1997 in Saoedi-Arabië gekwalifiseer. Swede het in die derde en Bulgarye in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Duitsland is in die kwarteindrondte uitgeskakel, terwyl die gasheer die Verenigde State die agtste eindrondte gehaal het.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie vir die toernooi gekwalifiseer nie en het dus nie daaraan deelgeneem nie. Die nasionale sokkerspanne van Griekeland, Nigerië en Saoedi-Arabië het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. As gevolg van die Ontbinding van die Sowjetunie in 1991 het Rusland ook vir die eerste keer aan die toernooi deelgeneem. Dit was die laaste toernooi met die aantal van 24 nasionale sokkerspanne; vir die volgende FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998 in Frankryk is die aantal na 32 verhoog.