FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2014
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 20ste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Portugees: Copa do Mundo da FIFA – Brasil 2014, [ˈkɔpɐ du ˈmũdu da ˈfifɐ bɾaˈziw ˈdojz ˈmiw i kaˈtoʁzi]; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 12 Junie tot 13 Julie 2014 in Brasilië aangebied. Dit was die tweede Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Brasilië aangebied is, ná die 1950-toernooi, en die vyfde in Suid-Amerika. Brasilië het daarmee die vyfde land geword wat die toernooi vir ’n tweede keer gehuisves het, net ná Meksiko in 1986, Italië in 1990, Frankryk in 1998 en Duitsland in 2006. Die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2013 het as ’n voorbereiding vir die gasheerland gedien.
Copa do Mundo da FIFA Brasil 2014 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Brasilië |
Datums | 12 Junie – 13 Julie |
Spanne | 32 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 12 (in 12 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Duitsland (4 titels) |
Tweede plek | Argentinië |
Derde plek | Nederland |
Vierde plek | Brasilië |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 171 (2.67 per wedstryd) |
Bywoning | 3 429 873 (53 592 per wedstryd) |
Meeste punte | James Rodríguez (6 doele)[1] |
Beste speler | Lionel Messi[2] |
← 2010 2018 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2014 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Duitsland het die trofee gewen nadat hulle Argentinië op 13 Julie in die Maracanã-stadion in Rio de Janeiro met 1–0 in ekstra tyd geklop en sodoende hul vierde wêreldbekertitel ingepalm het. Hiermee het hulle die eerste Europese span geword wat die toernooi in die Amerikas gewen het; dit was ook die derde agtereenvolgende toernooi wat deur ’n Europese span gewen is, ná Italië in 2006 en Spanje in 2010. Met sy verowering van die wêreldbekertitel het Duitsland regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2017 in Rusland gekwalifiseer. Nederland het in die derde en die gasheer Brasilië in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Spanje is reeds in die groepfase uitgeskakel; dieselfde lot wat voorheen Brasilië in 1966, Italië in 2010 en Frankryk in 2002 toegeval het.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie vir die toernooi gekwalifiseer nie en dus nie daaraan deelgeneem nie. Die nasionale sokkerspan van Bosnië en Herzegowina het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Hulle het vroeër deel uitgemaak van die Joego-Slawiese nasionale sokkerspan.