Geïsoleerde volk
From Wikipedia, the free encyclopedia
Geïsoleerde volke, ook ongekontakte volke genoem, is gemeenskappe wat óf vrywillig óf weens omstandighede sonder enige kontak met die buitewêreld leef. Daar is min mense wat nog geen kontak met die beskawing gehad het nie. Aktiviste vir die regte van inheemse volke doen ’n beroep dat sulke groepe alleen gelaat word omdat kontak sal inbreuk maak op hul reg op selfbeskikking.[1] Verder kan geïsoleerde volke ’n gebrek hê aan immuniteit teen algemene siektes, wat ’n groot deel van hul bevolking ná kontak kan uitwis.[2][3]
In 2013 is geraam daar is meer as 100 geïsoleerde stamme in die wêreld, hoofsaaklik in die digte woude van Suid-Amerika en Nieu-Guinee, terwyl die Sentinelese (van die Andaman-eilande, Indië) die mees afgesonderde groep ter wêreld is.[4] Kennis oor die bestaan van sulke volke word meestal opgedoen vanweë ongereelde en soms gewelddadige botsings met buurstamme en deur lugfotografie.
Geïsoleerde volke fassineer die beskaafde wêreld en die idee van toeroperateurs wat avontuurtoere aanbied wat na sulke groepe soek, is ’n omstrede saak. ’n BBC-dokumentêr is in 2006 gemaak van ’n Amerikaanse toeroperateur wat spesialiseer in begeleide toere om geïsoleerde volke in Wes-Papoea te "ontdek".[5] In 1971 het die BBC ’n dokumentêr, A Blank on the Map, gemaak wat deur sir David Attenborough aangebied is en waarin die eerste keer kontak gemaak is met die Biamivolk van Papoea-Nieu-Guinee.[6][7]