Honningsvåg
From Wikipedia, the free encyclopedia
Honningsvåg (Samies: Honnesváhki of Áváhki) is 'n klein stad en visserhawe in die munisipaliteit Nordkapp van die Noord-Noorse provinsie Finnmark. Honningsvåg lê op die eiland Magerøya en het 'n bevolking van sowat 2 400 mense.
Honningsvåg | |
---|---|
Stad | |
'n Uitsig oor Honningsvåg | |
Koördinate: 70°58′33″N 25°58′59″O | |
Land | Noorweë |
Fylke | Finnmark |
Kommune | Nordkapp |
Oppervlak | |
• Totaal | 1,21 km2 (0,47 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 2 415 |
• Digtheid | 1 996/km2 (5 170/vk. myl) |
Tydsone | UTC+01:00 (MET) |
Skakelkodes | 9750 |
Honningsvåg is die derde grootste kruisvaarthawe in Noorweë en word ook deur skepe van Hurtigruten aangedoen, maar het veral bekendheid verwerf vanweë sy ligging naby die Noordkaap (Noors: Nordkapp). Die hawe is in die somer gevolglik 'n belangrike bestemming vir plesierbote. Die lugredery Widerøe bied daarnaas gereelde vlugte na die lughawe Valan naby Honningsvåg aan. Die toerisme in verband met die Noordkaap, wat sowat 40 kilometer van die stad af lê, en vissery is die vernaamste bronne van inkomste vir Honningsvåg.
Alhoewel Honningsvåg homself sedert die 1990's as die "noordelikste stad ter wêreld" bemark (en gelyktydig ook na sy ligging naby die Noordkaap verwys), is daar in geografiese opsig nog ander stede soos Barrow in die Amerikaanse deelstaat Alaska wat aanspraak kan maak op hierdie titel.
Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog is alle nedersettings op die eiland Magerøya deur die Duitse Weermag aan die brand gesteek nadat hulle op bevel van Adolf Hitler 'n beleid van verskroeide aarde gevolg het. Net Honningsvåg se kerk uit die jaar 1884 het destyds bewaar gebly.