Kármán-lyn
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Kármán-lyn of Karman-lyn lê op 'n hoogte van 100 kilometer bokant die aarde se seevlak en word algemeen beskou as die grens tussen die aarde se atmosfeer en die buitenste ruimte.[1] Hierdie definisie word aanvaar deur die Fédération Aéronautique Internationale (FAI), 'n internasionale liggaam wat standaarde stel en rekords hou rakende die lugvaart- en ruimtevaartkunde.
Hierdie lyn is vernoem na Theodore von Kármán (1881–1963), 'n Hongaars-Amerikaanse ingenieur en fisikus. Hy het hom veral bemoei met die lug- en ruimtevaartkunde. Hy was die eerste persoon wat bereken het dat die atmosfeer op hierdie hoogte te dun word vir 'n vliegtuig om daar te vlieg. Op hierdie hoogte sal die vliegtuig vinniger moet beweeg as die aarde se wentelspoed om voldoende aërodinamiese krag te kry om dit self in sy wentelgang te onderhou (met weglating van middelpuntvlieënde krag).[2] Daar vind 'n skielike verhoging in die atmosferiese temperatuur en ook 'n interaksie met sonstraling net onder hierdie lyn plaas en daarom val die lyn in die groter termosfeer.