Kalifornië
Deelstaat van die Verenigde State van Amerika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Kalifornië (Engels en Spaans: California) is 'n deelstaat aan die suidelike weskus van die Verenigde State van Amerika (VSA). Dit is die grootste deelstaat ten opsigte van sy bevolking van sowat 39,3 miljoen[1] (soos op 1 Januarie 2016) en die derde grootste ten opsigte van sy oppervlak (410 000 vierkante kilometer), na Alaska en Texas. Die staat grens in die ooste aan Nevada, in die noorde aan Oregon, en in die suidooste aan Arizona. Die Kaliforniese Kanaaleilande maak ook deel uit van die deelstaat.
Deelstaat Kalifornië | |||||
| |||||
Bynaam(e): Golden State | |||||
Amptelike taal(e) | Engels | ||||
Gesproke taal(e) | Engels 60,5%, Spaans 25,8%, en Chinees 2,6% | ||||
Hoofstad | Sacramento | ||||
Grootste stad | Los Angeles | ||||
Area | 3de in die V.S. | ||||
- Totaal | 410 000 km2 | ||||
- Wydte | 402,5 km | ||||
- Lengte | 1 240 km | ||||
- Water | 20 047 km2 | ||||
- % water | 4,7 % | ||||
- Breedtegraad | 32°30'N tot 42°N | ||||
- Lengtegraad | 114°8'W tot 124°24'W | ||||
Bevolking | 1ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 37 253 956 | ||||
- Digtheid | 90,9/km2 11de in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Mount Whitney 4 421 m | ||||
- Gemiddeld | 880 m | ||||
- Laagste punt | Badwater Basin in Death Valley -86 m | ||||
Toetrede tot die Unie | 9 September 1850 (31ste) | ||||
Goewerneur | Gavin Newsom (D) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Eleni Kounalakis (D) | ||||
Wetgewer | Parlement van die Deelstaat Kalifornië (California State Legislature) | ||||
- Hoërhuis | Senaat van die Deelstaat Kalifornië (California State Senate) | ||||
- Laerhuis | Huis van Afgevaardigdes van die Deelstaat Kalifornië (California State Assembly) | ||||
V.S. Senatore | Dianne Feinstein (D) Alex Padilla (D) | ||||
Tydsone | UTC -8 / Somertyd -7 | ||||
Afkortings | CA US-CA | ||||
Webblad | www.ca.gov | ||||
Die gebied is deur stamme van die Eerste Nasies bewoon toe Europese ontdekkers die gebied in die 16de eeu geleidelik begin verken het. Die Spaanse navigator Juan Rodríguez Cabrillo was die eerste seevaarder wat in 1542 langs die Kaliforniese kus geseil het. Die eerste Spaanse sendingstasie in die gebied van die huidige San Diego is egter eers in 1769 gevestig. Dekades later het Kalifornië met die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog in 1821 die juk van kolonialisme afgeskud en deel van die Eerste Meksikaanse Keiserryk geword.
In die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog tussen 1846 en 1848 het die Meksikane 'n verpletterende neerlaag teen Amerikaanse magte gely. Volgens die Verdrag van Guadalupe Hidalgo is uitgestrekte gebiede in Noord-Meksiko aan die Verenigde State afgestaan. Kalifornië is reeds in 1847 aan Amerikaanse magte onder die bevel van John C. Frémont oorhandig. Op 24 Januarie 1848 het James W. Marshall naby Sutter's Mill goud ontdek. Gedurende die goudstormloop, wat hy ontketen het, het sowat 90 000 setlaars na die gebied gestroom. In 1850 het Kalifornië as 31ste deelstaat by die Verenigde State aangesluit.
Kalifornië was sedertdien een van die vernaamste bestemmings vir immigrante. In 1964 het Kalifornië New York verbygesteek om die mees bevolkte Amerikaanse deelstaat te word. In die 20ste en 21ste eeu het Kalifornië veral nuwe aankomelinge uit Asië, Meksiko en die Stille Oseaangebied ontvang.
Kalifornië het 'n hoogs-ontwikkelde ekonomie, en dit sou as 'n onafhanklike staat met sy bruto geografiese produk die sesde grootste ekonomie ter wêreld wees[4] (die elfde grootste volgens koopkragpariteite[5]). Met 'n bruto binnelandse produk (BBP) van 2,2 biljoen (2 200 miljard) € het die deelstaat in 2015 ondanks sy betreklik kleiner bevolking (39 miljoen) by die Europese Unie se tweede grootste ekonomie, Frankryk (met 'n BBP ter waarde van 2,12 biljoen € en 'n bevolking van 66 miljoen) verbygesteek. Die deelstaat se aandeel aan die VSA se BBP het in 2015 13,9 persent beloop.[6]
Kalifornië het meer as 'n vyfde bygedra tot die Verenigde State se ekonomiese groei sedert 2010 - meer as sy aandeel aan die totale bevolking of nasionale ekonomie.[7] Nogtans is die deelstaat se ekonomie en arbeidsmark kwesbaarder as dié van die hele Verenigde State - die verlies aan werksgeleenthede tydens 'n resessie is groter as die Amerikaanse gemiddeld. Daarenteen groei die Kaliforniese ekonomie vinniger tydens 'n opswaaifase.
Die belangrikste sektore van die plaaslike ekonomie is landbou, die vermaaklikheidsbedryf, ligte nywerhede (waaronder vervoertoerusting, masjienbou en elektronika), biotegnologie, ruimtevaarttegnologie, wapenvervaardiging en toerisme. Enkele streke in die deelstaat word met bepaalde sektore verbind, soos Los Angeles en Hollywood met vermaak; die Central Valley (Sentraalvallei) met landbou; die Silicon Valley met inligtings- en hoëtegnologie (tegnologie- en internetreuse soos Intel, Oracle, Apple, Google en Facebook het hier hulle hoofkwartiere); en die Kaliforniese Wynlande met wynbou. Belangrike natuurlike hulpbronne, wat in die deelstaat aangetref word, sluit hout, olie, sement en natuurgas in.
Kalifornië vorm nie net die Verenigde State se demografiese en ekonomiese swaartepunt nie, maar was en is ook die deelstaat waar kwessies van nasionale belang opgewerp en nuwe leefstyle gevolg word. Die Universiteit van Kalifornië se Berkeley-kampus was in die 1960's die bakermat van die Amerikaanse Free Speech Movement en die stadsbuurt Haight Ashbury in San Francisco het tot 'n mekka van die hippie-beweging ontwikkel. Tans is die deelstaat onder meer 'n nasionale leier op die gebied van alternatiewe energiebronne. In 2019 was byna twee derdes van die deelstaat se kragverkope uit koolstofvrye energiebronne afkomstig (hierby word kernenergie ingesluit), terwyl die aandeel hernieubare energiebronne op sowat 36 persent beraam is.[8]