Reël van derdes
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die reël van derdes is ’n riglyn vir die samestelling van ’n visuele beeld in ontwerp, rolprente, skilderye en fotografie.[1] Daarvolgens stel ’n mens jou voor ’n beeld word in nege gelyke dele opgedeel, wat geskei word deur twee horisontale en twee vertikale lyne. Belangrike elemente op die beeld moet dan geplaas word al langs hierdie lyne of op plekke waar hulle mekaar kruis.[2] Voorstanders van die tegniek beweer groter spanning, energie en belangstelling word geskep deur ’n voorwerp met hierdie punte te laat oplyn as wanneer die voorwerp bloot gesentreer word.
Die foto regs wys hoe die reël van derdes toegepas word. Die horison is op die horisontale lyn wat die onderste derde van die foto skei van die boonste twee derdes. Die boom is op die kruising van twee lyne. As die fotograaf klem wou lê op die eiland self in plaas van die lug, kon hy die horison laat oplyn het met die lyn wat die boonste derde van die foto van die onderste twee derdes skei.
Belangrike voorwerpe hoef nie presies aan een van die lyne te raak nie. Die helderste deel van die foto naby die horison waar die son pas ondergegaan het, lê byvoorbeeld nie reg op een van die lyne nie, maar wel naby die kruising van twee lyne – naby genoeg om voordeel te trek uit die reël.