Silinderseël
From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Silinderseël is ’n klein, ronde silinder wat gewoonlik omtrent 2 tot 3 cm lank is en gegraveer is met óf geskrewe karakters óf figuurtonele óf albei. Dit is in antieke tye gebruik om ’n afdruk op ’n tweedimensionele oppervlak te maak, meestal nat klei.
Volgens sommige bronne is silinderseëls omstreeks 3500 v.C. in die antieke Nabye Ooste ontdek, in Uruk in Suid-Mesopotamië of effens later in Susa in Suidwes-Iran, en volg dit op die ontwikkeling van stempelseëls in die Halaf-beskawing of effens vroeër.[3] Hulle word verbind met laasgenoemde se skryf in wigskrif op kleitablette.[4][5][6]
Volgens ander bronne dateer die vroegste silinderseëls terug na ’n veel vroeër tyd, die laat Neolitikum (7600-6000 v.C.), honderde jare voor die uitvinding van skryf.[7][8] Hulle is gebruik as ’n soort administratiewe werktuig, ’n vorm van handtekening, sowel as op juweliersware en magiese geluksteentjies.[9] In latere tydperke is hulle op verskeie soorte kleidokumente gebruik. Grafte en ander terreine met waardevolle items soos goud, silwer, krale en edelstene, het dikwels een of twee silinderseëls ingesluit as ereblyk.