Vrededorp (kiesafdeling)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Vrededorp was 'n kiesafdeling in Johannesburg vir die Suid-Afrikaanse Volksraad vanaf die heel eerste algemene verkiesing op 15 September 1910 ná Uniewording op 31 Mei daardie jaar tot voor die verkiesing van 1933. Dit was gesentreer om die mindergegoede voorstad Vrededorp.
In die heel eerste verkiesing wen Lourens Geldenhuys in Vrededorp vir die Regerende Party met 'n meerderheid van 458 teen die Unionisteparty se N.C. Herschensohn. Die onafahnklike G.A. Roth was derde met 148 stemme, vergeleke met Geldenhuys se 1 059. Geldenhuys behou die setel in die algemene verkiesing van 1915, maar kry net 60 stemme meer as T.C. Visser van die Nasionale Party. In 1920 gaan staan Geldenhuys as S.A.P.-kandidaat in Johannesburg-Noord en in Vrededorp wen Visser met 'n meerderheid van 929 teen die S.A.P. se W.P. Pretorius.
Visser behou Vrededorp in 1921 met 'n vergrote meerderheid van 1 058 teen P.L. Lourens van die S.A.P. en in 1924 met 1 427 stemme meer as die S.A.P. se C.J. Smith. In 1929 wen die Nasionale Party se F.J. Roberts in Vrededorp toe hy 1 770 stemme kry vergeleke met die S.A.P.-kandidaat, P.J.J. Wilsenach se 455 en die Onafhanklike Nasionalis H.C.M. Fourie se 86. Die kiesafdeling word hierna afgeskaf tydens die herafbakening voor die 1933-verkiesing.