Engelbertus le Boucq
From Wikipedia, the free encyclopedia
Ds. Engelbertus Franciscus le Boucq (Tubeke, Brabant, België, 1675 – Batavia, Julie 1745) was die 14de predikant wat bevestig is vir diens in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die mees omstrede van die vroeë Kaapse leraars. Buiten predikant was hy ook die skrywer van godsdienstige boeke en polemiese geskrifte.
Le Boucq was 'n Bernardynse monnik voor hy sy Roomse geloof vir die Protestantse verruil en hom aangemeld het by die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Holland vir diens in Nederlands-Oos-Indië. Ná 'n driejarige dienstyd van 1703 tot 1706 is hy op sy eie versoek na die Kaap die Goeie Hoop verplaas, waar hy aangekom het op 30 Maart 1707. Met sy strydlustige, prikkelbare en impulsiewe geaardheid het hy op onverantwoordelike wyse in die stryd tussen die ondersteuners van Willem Adriaan van der Stel enersyds en die vryburgers aan die Kaap andersyds betrokke geraak. Eindelik het sy laakbare optrede daartoe gelei dat die Politieke Raad hom en sy gesin op 13 September 1708 na Batavia laat deporteer het, waar hy later in die amp herstel is en 19 jaar lank predikant van die Portugese Protestantse gemeente was. Op besoek aan Nederland in 1731 het binne 'n dag nadat hy hom vir die kursus aangemeld het, 'n doktorsgraad in die regte van die Universiteit van Harderwijk verwerf. Naas al sy polemiese geskrifte was sy bekendste werk 'n beknopte uiteensetting van die Heidelbergse Kategismus.[1]
Hy word beskryf as ’n "rustelose, emosionele en woelsieke" mens.[2] J.P. Claasen skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek: "As leraar het Le Boucq ongetwyfeld groot entoesiasme geopenbaar, maar sy taktloosheid, skerp tong en giftige pen het talle botsings met die kerk, die owerheid en sy medemens tot gevolg gehad."[3]