Geaffekteerde taalgebruik
From Wikipedia, the free encyclopedia
Geaffekteerde taalgebruik verwys na aanstellerige of gekunstelde taal wat nie van nature in die onmiddellike of algehele taalgemeenskap voorkom nie.
Taalverskille tussen sprekers van 'n besondere taal berus heel dikwels op die sosiale onderskeidings in die gemeenskap. Die verskillende bevolkingslae druk hul op verskillende maniere oor dieselfde saak uit. Op hierdie wyse word sosiale onderskeidinge gemaak – die een groep se taalgebruik verskil ook van streek tot streek, maar ook van subkultuur tot subkultuur. So sal die Cockney-Engels in Brittanje verskil van die Britse adeltaal en/of Oxford/Cambridge-Engels, die Hagenaar se taal verskil van die Limburger in Nederland, die Kaapse woonbuurte Ysterplaat weer van Welgemoed s'n. Die taalgebruik van die onderskeie groepe toon duidelike verskille: by die laer sosiale klasse kom palatisering voor, vreemde morfologiese vorme (gevergeet, mees wonderlikste), taalvermenging en 'n eenvoudiger sinsboustruktuur. By die middelklas kom weer minder taalvermenging voor en by die hoër sosiale groepe bykans geen taalvermenging nie.[1]
Tog hou hierdie teorie nie dwarsoor die wêreld ewe veel water nie. Die adel van Nederland het vroeër byvoorbeeld heelwat woorde verfrans om hul van die burgery te onderskei, maar toe die Nederlandse burgers alledaagse woorde verfrans, het die adel weer hul taal begin verdiets.[2][3][4] In Suid-Afrika wissel die siening van die bry-r (ʁ) gewoonlik tussen plat maar tog kinderlik-ongekunsteld. Jan Smuts het byvoorbeeld sy bry behou, maar D.F. Malan het sy Swartlandse bry afgeleer toe hy in die bediening gegaan het, omrede dit vir hom hinderlik was.[5] In Nederland word die "brouw-r" weer as "bekakt" (snobisties) beskou, omrede die bry 'n na-aapsel van die Standaardfrans (die statustaal van destyds) is. Die woord bry is trouens afkomstig uit die Nederlands "brouwen", van "breu", wat "pap" beteken. Om te bry het dus beteken om te praat of jy pap in jou mond het; 'n soort spraakgebrek.[6]
Die spreker kan egter kies by watter sosiale groep hy wil inskakel. Deur by 'n betrokke sosiale groep te probeer inskakel, moet hy die betrokke sosiolek besig of naboots. Aan hierdie sosiolek word die spreker met die betrokke groep verbind. Wanneer 'n spreker daagliks binne 'n taalgemeenskap doelbewus van die spraakgenote of selfs stand verskil, word dit "geaffekteerd".
In Afrikaans bestaan daar hoofsaaklik twee tipes geaffekteerde taalgebruik: Superstandaardafrikaans en Opsetlik gemengde taal.