Geskiedenis van Siberië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die vroegste geskiedenis van Siberië is grootliks oorheers deur gesofistikeerde nomadiese beskawings voor die Christelike era. Van die eerste bewoners van Sentraal-Siberië was die Jenisiane, waarvan die hedendaagse Kets die laaste afstammelinge is. Talle opgrawings getuig van digte bevolkings aan die oewers van al die Siberiese mere. Die Jenisiane is opgevolg deur die Samojede uit die noordelike Oeral-streek. Hulle het talle items uit die Bronstydperk agtergelaat.
In Suid-Siberië kan Indo-Irannese invloede teruggespoor word tot 2300–1000 voor Christus. Tussen die 7de en 3de eeu voor Christus het die Skitiërs in die Altai-streek gefloreer. Hulle het ’n groot invloed gehad op alle latere ryke op die steppe.
Die vestiging van die Xiongnu-ryk in die 3de eeu v.C. het ’n reeks bewegings van die inwonende volke tot gevolg gehad. Baie mense is waarskynlik gedwing na die noordelike grense van die groot Sentraal-Siberiese Plato. Verskeie Turkiese stamme soos die Chakas en Oeigoere het noordweswaarts gemigreer en die Oegriërs onderdruk. Hulle was vertroud met yster en het by hul onderdane geleer hoe om bronsitems te maak waarop hulle hulle hoogs artistieke stempel afgedruk het. Hulle pottebakkerswerk was kunstiger en van hoër gehalte as dié van die Bronstydperk en van dié artefakte kan gesien word in die versamelings van die Hermitage in Sint Petersburg.
Die Mongole het lank noue bande met die volke van die Siberiese woude (taiga) gehad. Teen 1206 het Djengis Khan al die Mongoolse en Turkiese stamme in Mongolië en Suid-Siberië verower. In 1207 het sy oudste seun, Djotsji, die Siberiese woudmense onderwerp – die Oerianchai, Oirats, Barga, Chakas, Boerjate, Tiwane en Kirgisiërs.[1] Later het Wes-Siberië in die hande van die Goue Horde geval.[2] Die afstammelinge van Orda Khan, die oudste seun van Djotsji, het oor dié gebied regeer.