Madain Saleh
From Wikipedia, the free encyclopedia
Madain Saleh (Arabies: مدائن صالح, madāʼin Ṣāliḥ, letterlik: "stede van Saleh), ook Al-Hijr of Hegra genoem, is 'n ruïnestad in noordwestelike Saoedi-Arabië en was in antieke tye die suidelikste en tweede grootste stad van die Nabatese ryk, na die hoofstad Petra in die hedendaagse Jordanië.[1] Hegra is nes Petra bekend vir sy graftempels wat uit rotse gebeitel is. Die argeologiese terrein Al-Hijr (Madain Saleh) is in 2008 deur Unesco as Saoedi-Arabië se eerste wêrelderfenisgebied gelys.
Argeologiese terrein Al-Hijr (Madain Saleh)* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Madain Saleh | |
Ligging van Madain Saleh in Saoedi-Arabië | |
Koördinate: 26°47′30″N 37°57′10″O | |
Lande | Saoedi-Arabië |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | ii, iii |
Verwysings | 1293 |
Streek† | Asië |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 2008 (32ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Madain Saleh is sowat 400 km noordwes van Medina en sowat 500 km suidoos van Petra geleë. Sy ligging is al vergelyk met Petra s'n en was net sy bekende eweknie aan die kruising van verskeie belangrike handelsroetes geleë. Dit word ook "Klein Petra" genoem en is soos die Nabatese hoofstad net deur nou nisse tussen die rotse toeganklik. Die stad is met water voorsien, wat uit omliggende reservoirs met akwadukte na die stad gelei is. Madain Saleh se argitektuur toon 'n Grieks-Romeinse invloed wat met die plaaslike Nabatese stil vermeng is.
Die meeste graftempels in Madain Saleh dateer uit die 2de eeu v.C. en hulle is in vergelyking met Petra s'n kleiner en eenvoudiger versier. Van die inskripsies is in Nabatees, 'n Aramese dialek, en Arabies, albei behoort tot die Semitiese taalfamilie.