Veda
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Vedas (Sanskrit: वेद veda, "kennis") is ’n groot hoeveelheid geskrifte met hul oorsprong op die Indiese subkontinent. Die manuskripte, in Sanskrit, is die oudste geskrifte van Hindoeïsme.[1][2] Hindoes beskou die Vedas as apauruṣeya ("nie van ’n mens nie, bomenslik"[3] en "onpersoonlik, anoniem").[4][5][6]
Vedas word ook genoem śruti ("wat gehoor word") letterkunde,[7] wat dit onderskei van smṛti ("wat onthou word") godsdienstekste. Die Vedas word deur ortodokse Indiese teoloë beskou as onthullings wat deur antieke wysgeers gesien is ná intense meditasie, en teks wat sedert antieke tye versigtig bewaar word.[8][9] In die epiese Hindoegedig Mahabharata kry die god Brahma die lof vir die skepping van die Vedas.[10] Volgens die Vediese himnes self is hulle vernuftig deur rishi's (wysgeers) geskep ná geïnspireerde skeppingsvernuf, nes ’n timmerman ’n strydwa bou.[9]
Daar is vier Vedas: die Rigveda, Yajurveda, Samaveda en Atharvaveda.[11][12] Elk word onderverdeel in vier groot tekstipes – die Samhitas (mantras en seëngebede), Aranyakas (geskrifte oor rituele, seremonies en offerandes), Brahmanas (kommentaar op rituele, seremonies en offerandes) en Upanishads (teks wat meditasie, filosofie en spirituele kennis bespreek).[11][13] Sommige geleerdes voeg ’n vyfde kategorie by: die Upasanas (aanbidding).[14][15]
Die verskillende Indiese filosofieë en denominasies het verskillende sienings van die Vedas. Skole wat die geskrifte as hul skriftelike gesag beskou, word "ortodoks" (āstika) genoem.[16] Ander tradisies, soos die Lokayata, Carvaka, Ajivika, Boeddhisme en Djainisme, vir wie die Vedas nie gesaghebbend is nie, word "heterodoks" of "nie-ortodoks" (nāstika) genoem.[17][18] Ondanks hul verskille, bespreek die verskillende Vedas dieselfde idees en begrippe.[17]