Aleksander Koltsjak
From Wikipedia, the free encyclopedia
Aleksander Wasiljewitsj Koltsjak (Russies: Александр Васильевич Колчак; 16 November [O.S. 4 November] 1874 - 7 Februarie 1920) was 'n admiraal, militêre leier en poolverkenner van die Russiese Ryk wat in die Russies-Japannese Oorlog van 1904-'05 en die Eerste Wêreldoorlog in die Russiese vloot geveg het.[1]
Tydens die Russiese Burgeroorlog van 1917-'22 het hy 'n antikommunistiese regering in Siberië op die been gebring – later bekend as die Voorlopige Alrussiese Regering – en is hy van 1918 tot 1920 deur die leiers van die Wit beweging erken as die "opperleier en opperbevelvoerder van alle Russiese land- en seemagte".[2]
Sy regering se setel was in Omsk, Suidwes-Siberië.
Koltsjak het byna twee jaar lank gedien as Rusland se internasionaal erkende staatshoof.[3] Sy pogings om die Wit beweging te verenig het egter misluk. Terwyl die Wit magte uiteengeval het, is hy verraai en aangehou[4][5][6] deur die hoof van die Geallieerdes se militêre sending in Siberië, die Franse generaal Maurice Janin, en die Tsjeggo-Slowaakse Legioen. Hulle het hom in Januarie 1920 aan die plaaslike tak van die Bolsjewiste oorhandig. Dié het hom in Februarie 1920 in Irkoetsk tereggestel.[7]