Arabiere
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Arabiere (Arabies: عَرَب, ‘arab, [ˈʕarab], luister (hulp·inligting)) is 'n groot en heterogene Semitiese etniese groep wat veral in die Midde-Ooste, Noord-Afrika en aan die Horing van Afrika aangetref word. Hulle het met die uitbreiding van die Islam in die 7de eeu vanaf die Arabiese Skiereiland en Wes-Asië versprei. Tussen 430 en 450 miljoen Arabiere leef wêreldwyd, waarvan die meeste in die Arabiese wêreld. Daarmee is die Arabiere die tweede grootste etniese groep naas die Han-Chinese. Belangrike Arabiese minderhede leef in Iran, Israel en Turkye. Die bande wat Arabiere verbind is taalkundige, kulturele, politieke en etniese feite. Palestyne en Sahrawis is van die bekendste Arabiese deelgroepe.
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Arabies.
Arabiere | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 430–450 miljoen[1] |
Belangrike bevolkings in: | Arabiese Liga ~423 miljoen Brasilië ~9 miljoen[2] |
Taal: | Arabies, Engels, Frans, Hebreeus |
Geloofsoortuiging: | Hoofsaaklik Soennitiese Islam (ook Sjiïtiese Islam, nie-denominasionele Islam, Ibadi-Moslems); minderhede Christendom, Droese, Baha’i;[23] Ateïsme, Agnostisisme, Deïsme[24] |
Verwante etniese groepe: | Ander Semitiese en Afro-Asiatiese volke |
Die meeste Arabiere is aanhangers van die Soennitiese Islam en hul moedertaal is Arabies. Die Arabiese diaspora is een van die grootstes ter wêreld en het in lande van die Amerikas, Europa, Suid- en Suidoos-Asië gevestig. Die meeste mense van Arabiese afkoms buite die Arabiese wêreld leef in Brasilië (9 miljoen), gevolg deur Frankryk (5,9 miljoen), Argentinië (4,5 miljoen), die Verenigde State (3,5 miljoen), Spanje (1,6–1,8 miljoen), Venezuela (1,6 miljoen), Italië (1,5 miljoen), Meksiko (1,1 miljoen), Chili (1 miljoen) en Colombia (700 000–1 miljoen). As gevolg van die Arabiese Lente met burgeroorloë soos die Libiese (2011) en die Siriese Burgeroorlog (sedert 2011) het miljoene Arabiere van hul tuislande gevlug, waarvan die meeste na Europese lande soos Duitsland.