Butch en femme
From Wikipedia, the free encyclopedia
Butch en femme is terme in gay en lesbiese gemeenskappe om ’n manlike (butch) of vroulike (femme) identiteit aan te dui, met die gepaardgaande gewoontes, optrede, styl, selfbeskouing, ens.[1][2] Die terme is in die 20ste eeu in lesbiese gemeenskappe geskep. Dit is al beskryf as "’n manier om seksuele verhoudings en gender- en seksuele identiteit te organiseer".[3] Die butch-femme-kultuur is egter nie die enigste soort verhoudings onder lesbiërs nie; daar is ook talle butch-butch- en femme-femme-verhoudings.[4]
Sommige lesbiese feministe is teen die woorde gekant en voel die onderskeid is ’n afdwinging van heteroseksuele sienings.[5] Volgens navorsing in die 1990's in die VSA "is 95% van lesbiërs vertroud met butch/femme-kodes en kan hulle hulself of ander volgens daardie kodes beoordeel, maar dieselfde persentasie het gevoel butch/femme is 'onbelangrik in hul lewe'".[6]