Geraas in musiek
From Wikipedia, the free encyclopedia
In musiek word geraas dikwels beskryf as harde, onmusikale en ongewenste klanke sonder toonhoogte, vaste aard en beheersing. Geraas is ’n belangrike komponent van die klank van die mens se stem en alle musiekinstrumente, veral by slaginstrumente sonder toonhoogte en elektriese kitare (wat van vervorming gebruik maak). Elektroniese musiekinstrumente skep verskeie geraaskleure. Tradisionele gebruike van geraas is onbeperk, en maak gebruik van al die frekwensies wat met toonhoogte en toonkleur verband hou, soos die witruiskomponent van ’n tromgeroffel op ’n snaartrom, of die transiënte wat teenwoordig is in die aanvang van die klank van sekere orrelpype.
Die invloed van die modernisme in die vroeë 20ste eeu het komponiste soos Edgard Varèse daartoe gelei om die gebruik van geraasgebaseerde sonoritetite in ’n orkes te ondersoek. In dieselfde tydperk het die Italiaanse futuris Luigi Russolo ’n "geraasorkes" ontwikkel waarin instrumente gebruik is wat hy intonarumori genoem het. Later in die 20ste eeu het die term noise-musiek na werke begin verwys wat hoofsaaklik uit geraasgebaseerde klank bestaan het.
In algemener gebruik is geraas enige ongewenste klank of sein. In hierdie sin kan selfs klanke wat as musikaal alledaags beskou word, in ’n ander konteks geraas word as dit die ontvangs van ’n boodskap deur die ontvanger belemmer.[1] Voorkoming en vermindering van ongewenste klanke, van 'n sisgeluid by bandspelers tot bastrompedale wat piep, is belangrik in baie musikale kontekste, maar geraas kan ook op baie maniere kreatief ingespan word, en op sekere maniere in byna alle genres.