Homofobie
negatiewe houdings en diskriminasie jeens homoseksualiteit / From Wikipedia, the free encyclopedia
Homofobie (afgelei van homo vir "homoseksueel" en fobie vir "vrees, angs"; albei Griekse woorde) is letterlik die angs vir homoseksualiteit. Die woord is in die 20ste eeu geskep, aanvanklik met 'n negatiewe betekenis: 'n haat vir of afkeer van homoseksuele en homoseksualiteit. Die woord homohaat word ook soms vir die fenomeen ingespan. 'n Persoon wat homofobiese gedrag toon, word 'n homofoob genoem. Dit is egter nie 'n fobie in die ware sin van die woord nie.
Homofobie sluit 'n reeks negatiewe houdings en gevoelens in jeens homoseksualiteit of mense wat hulle identifiseer (of beskou word as) lesbies, gay, biseksueel of transgender ( LGBT ).[1] [2][3] Die woord word gedefinieer as minagting tot iemand anders, vooroordeel, afkeer en haat, en kan moontlik gebaseer wees op 'n irrasionele vrees. Dit kan ook verband hou met godsdienstige oortuigings of idees of 'n kombinasie hiervan. [4] [5]
Homofobie word beskou as, en is waarneembaar in, veral kritiese en vyandige gedrag jeens ander, soos diskriminasie en geweld op grond van seksuele oriëntasies wat nieheteroseksueel is.
Erkende tipes homofobie sluit in: geïnstitusionaliseerde homofobie, byvoorbeeld godsdienstige homofobie en hoe 'n regering of staat homofobie beskou, en geïnternaliseerde homofobie.[6] [7]
Negatiewe houdings teenoor mense wat hulle as deel van die LGBT-groepe identifiseer, het soortgelyke maar spesifieke name: Lesbofobie is die kruising van homofobie en seksisme wat teen lesbiërs gerig is, gayfobie is die afkeer of haat van gay mans, bifobie teiken biseksualiteit en biseksuele mense, en transfobie teiken transgender en transseksuele mense.[8]