Krieketwêreldbeker 2007
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 2007 (Engels: 2007 Cricket World Cup) is van 13 Maart tot 28 April 2007 in Wes-Indië beslis. Dit was die negende krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste in die Amerikas. Die sewe Karibiese eilandstate Antigua en Barbuda, Barbados, Grenada, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia en Trinidad en Tobago, asook Guyana het gesamentlik as gashere van dié toernooi opgetree, meer as by enige ander krieketwêreldbekertoernooi. Saam met die T20I-wêreldbeker 2007 in September in Suid-Afrika was dit een van twee groot kriekettoernooie in 2007.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 2007 | |
Datums | 13 Maart – 28 April |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groepfase, Super Agt en uitklopfase |
Gashere | Wes-Indië |
Kampioen | Australië (4de titel) |
Naaswenner | Sri Lanka |
Deelnemers | 16 (38 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 51 |
Bywoning | 672 000 (13 176 per wedstryd) |
Speler van die reeks | Glenn McGrath |
Meeste lopies | Matthew Hayden (659)[1] |
Meeste paaltjies | Glenn McGrath (26)[2] |
← 2003 2011 → |
16 nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2007 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die ses beste spanne van die IKK-trofee 2005 (Bermuda, Ierland, Kanada, Kenia, Nederland en Skotland), meer as by enige ander krieketwêreldbeker. Tydens die Krieketwêreldbeker 2007 is 51 wedstryde gespeel, drie minder as tydens die vorige Krieketwêreldbeker 2003 (ondanks twee bykomende deelnemende spanne). Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.[3]
Australië, Nieu-Seeland, Sri Lanka en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Suid-Afrika en Sri Lanka het Nieu-Seeland geklop, voordat die verdedigende kampioen Australië die eindstryd op Kensington-ovaal in Barbados teen Sri Lanka met 53 lopies (D/L-metode) gewen en sodoende sy vierde titel ingepalm en as enigste land tot dusver ’n driekuns behaal het.[4] Die nasionale krieketspanne van Bermuda en Ierland het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit is tot dusver die enigste krieketwêreldbeker waaraan drie spanne van die Amerikas en vier van Europa deelgeneem het.
Australië se onoorwonne rekord in die toernooi het hul totaal tot 29 agtereenvolgende krieketwêreldbekerwedstryde sonder ’n nederlaag verhoog, ’n reeks wat op 23 Mei 1999, tydens die groepfase van die Krieketwêreldbeker 1999, begin het. Die toernooi het ook ontsteltenisse en verassingsuitslae gesien, toe die toernooigunstelinge Indië en Pakistan nie die Super Agt gehaal het nie, terwyl Bangladesj, destyds die tweede laagste volle lid op die IKR se EDI-ranglys, en die wêreldbekerdebutant Ierland, destyds ’n assosiaatlid, die Super Agt gehaal het deur onderskeidelik Indië en Pakistan te verslaan. Ierland het daarmee ná Kenia in 2003 die tweede assosiaatlid geword wat die tweede rondte van ’n krieketwêreldbekertoernooi gehaal het.[5] Pakistan se destydse afrigter Bob Woolmer is een dag ná die uitskakeling van sy span dood aangetref. Die daaropvolgende dag het die Jamaikaanse polisie aangekondig dat sy dood agterdogtig was en ’n volledige ondersoek aanbeveel.[6] Agt maande later het die polisie die saak gesluit verklaar ná die goedkeuring van ’n openbare beslissing deur ’n elf-lede-jurie.[7]
Na aanleiding van die toernooi het die IKR toernooi-inkomste van $239 miljoen onder sy lede verdeel.[8] Die Krieketwêreldbeker 2007 is aanvanklik as ’n ramp bestempel, aangevoer is die relatief lang duur met 51 wedstryde (die meeste nog) in vier fases oor 47 dae, die lang reisafstand tussen die eilande, die Pakistanse afrigter se dood en die aansluitende langdurige ondersoek, die vroeë uitskakeling van beide Indië en Pakistan, asook die omstrede handhawing van die slegte weersomstandighede tydens die eindstryd deur die skeidsregters.[9] Die toernooi word egter ook as die mees inklusiewe krieketwêreldbekertoernooi beskou, aangesien vir die enigste keer 16 spanne kon deelneem en gedurende die groepfase al die spanne in kleiner groepe ’n billike kans op vordering gehad het.[10]