Krieketwêreldbeker 2027
2027 Eendag Internasionale kriekettoernooi in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 2027 (Engels: 2027 Cricket World Cup) word van Oktober tot November 2027 in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië beslis.[1] Dit is die 14de krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en ná die Krieketwêreldbeker 2003 die tweede in Suider-Afrika. Die 2003-toernooi is deur Suid-Afrika, Zimbabwe en Kenia aangebied. Namibië sal vir die eerste keer ’n wêreldbekertoernooi aanbied.
Die artikel beskryf ’n sportgebeurtenis wat in die toekoms gaan plaasvind. Die inligting is moontlik spekulatief en kan vinnig verander soos data beskikbaar raak. |
Die Krieketwêreldbekertrofee waarom meegeding sal word | |
Datums | Oktober – November |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Suid-Afrika Zimbabwe Namibië |
Deelnemers | 14 |
Wedstryde gespeel | 54 |
← 2023 2031 → |
14 nasionale krieketspanne neem aan die Krieketwêreldbeker 2027 deel, waartydens 54 wedstryde gespeel word, waaronder 42 tydens die groepfase, nege in die Super Ses, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd.[2] Die eerste bal word iewers in Oktober geboul; maar die presiese datum is nog nie bekend nie. Die spanne word in twee groepe van sewe elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep speel. Die drie beste spanne van elke groep kwalifiseer hierna vir die Super Ses, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte kwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd bestaan uit 50 boulbeurte per span. ’n Soortgelyke formaat is voorheen tydens die Krieketwêreldbeker 1999 en die Krieketwêreldbeker 2003 gebruik.[3] Australië is die verdedigende kampioen nadat hulle die vorige Krieketwêreldbeker 2023 teen die gasheer Indië gewen het.[4]