Kubaans-Amerikaanse betrekkinge
From Wikipedia, the free encyclopedia
Kuba en die Verenigde State van Amerika herstel op 20 Julie 2015 diplomatieke betrekkinge, wat gedurende die Koue Oorlog in 1961 verbreek is. Die Amerikaanse diplomatieke verteenwoordiging in Kuba word deur die ambassade in Havana behartig, en daar is 'n soortgelyke Kubaanse ambassade in Washington, D.C.. Die Verenigde State van Amerika, het egter aangegaan om sy handels-, ekonomiese-, en finansiële verbod op Kuba te handhaaf. Dit maak dit onwettig vir Amerikaanse sakeondernemings om sake met Kuba te bedryf. Hoewel die Amerikaanse president, Barack Obama, 'n voorstaander is vir die opheffing van die embargo, bepaal die Amerikaanse reg dat dit net met die goedkeuring van die Kongres kan geskied. Op 22 Maart 2016 lui Obama 'n nuwe era in internasionale betrekkinge in toe hy die eerste Amerikaanse president, sedert 1959, geword het om Kuba te besoek. "Ek het hierheen gekom om die laaste oorblyfsels van die Koue Oorlog in die Amerikas te kom begrawe," was sy boodskap in Havana.
Namate die Spaanse Ryk in die 1820's sy houvas op sy gebiede in die Amerikas verloor het, het daar uiteindelik net twee lande, Kuba en Puerto Rico, onder sy beheer oorgebly. Dit het ook in 1898 met die Spaans-Amerikaanse Oorlog tot 'n einde gekom, met Kuba wat 'n protektoraat van Amerika geword het. Dit het Amerika die geleentheid gebied om ekonomiese en politieke oorheersing oor Kuba te kry. Hoewel Kuba in 1902 onafhanklikheid gekry het, het die Amerikaanse houvas voortgeduur.
Die Kubaanse Revolusie van 1959 het die bilaterale betrekkinge tussen die twee lande begin versuur. In 1961 verbreek Amerika diplomatieke bande en begin met koverte operasies om die Kommunistiese regime omver te werp.[1] Amerika stel verdere strafmaatreëls in nadat Kuba Amerikaanse eiendom in die land nasionaliseer. Intussen begin verskeie organisasies, wat die VN se Algemene Vergadering insluit, met 'n beroep vir opskorting van Amerika se uitgerekte ekonomiese-, handels-, en finansiële embargo teen Kuba.[2]
Op 7 Desember 2014 kondig pres. Barack Obama en pres. Raúl Castro die begin aan van 'n proses om die betrekkinge tussen die twee lande te normaliseer. Die media het dit die "Kubaanse Ontdooiing" gedoop. Die deurbraak het gekom na maandelange geheime samesprekings in Kanada en in die Vatikaanstad[3] met die hulp en ondersteuning van Pous Franciskus. Sommige van die Amerikaanse reisbeperkings is opgehef, minder beperkings op geldoorplasings, en die Amerikaanse banke kry toegang tot die Kubaanse finansiële instellings.[4] Die ambassades, wat in 1961 met Kuba se noue bande met die Sowjetunie opgeskort is, is weer in Washingtion DC en in Havana geopen.[5][6][7]
Teen 1877 het Amerika reeds 83% van alle Kubaanse uitvoerprodukte gekoop.[8] Dit was in dié tyd dat die Engelse reisiger, Anthony Trollope opgemerk het dat "indien die land se handel in buitelanders se hande val, sal Havana binnekort so Amerikaans soos New Orleans wees".[9] Noord-Amerikaners het hulle ook al hoe meer op die eiland gevestig, en die noordelike strande het 'n meer Amerikaanse karakter as die van die ou Spaanse setlaars gehad. Bowenal het dié betrokkenheid die Kubaanse ekonomie by die Amerikaanse stelsel geïntegreer en sodoende Kuba se bande met Spanje verswak.
Teen 1926 het Amerikaners 60% van die Kubaanse suikerindustrie besit en 95% van die Kubaanse opbrengste uit suikerrietplantasies is na Amerika uitgevoer.[10][11][12]
Generaal Fulgencio Batista se opgang in die 1930's en sy twee termyne as Kubaanse president (1940–44 en 1952–59) was 'n era van noue samewerking tussen die regering van Kuba en Amerika. Batista se tweede termyn was met 'n staatsgreep in Florida beplan en Amerika se president Harry S. Truman was vinnig om Batista se terugkeer met militêre en ekonomiese hulp te verwelkom.[11] Die Batista-era was gekenmerk deur die totale oorheersing van Amerika oor die Kubaanse ekonomie. Korrupsie het floreer en Kuba het later 'n veilige hawe vir Amerika se georganiseerde misdaadbase geword.
Namate die gewapende konflik tussen die rebelle onder leiding van Fidel Castro en die Batista-regering ontwikkel het, is daar druk deur die aangewese nuwe president, Manuel Urrutia Lleó, op Amerika geplaas om sy wapenverkope aan Batista te staak. In Maart 1958 neem Washington die kritieke besluit om Batista se wapenvoorsiening op te skort. Dit het die stryd onomkeerbaar ten gunste van die rebelle gedraai. Ambassadeur Earl T Smith het hewig beswaar uit Havana gemaak en William Wieland, 'n adviseur van die Amerikaanse departement van buitelandse sake het dievolgende te sê gehad: "Ek weet Batista word deur baie as 'n 'son of a bitch' beskou... maar die Amerikaanse belange kom eerste... hy was minstens ons eie 'son of a bitch' gewees."[13]