MiG-21
vegvliegtuigfamilie deur Mikoyan / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Mikojan-Goerewitsj MiG-21 (Russies: Микоян и Гуревич МиГ-211) is 'n supersoniese straalvegvliegtuig wat in die Sowjetunie met die oog op lugsuperioriteit ontwikkel is. Nadat die vegvliegtuig deur die Mikojan-Goerewitsj Ontwerpburo in Moskou ontwerp en laat bou is, is dit in 1959 deur die destydse Sowjetlugmag in gebruik geneem. Die vliegtuig is sedertdien onttrek aan Russiese diens.
MiG-21 "Fishbed" | |
---|---|
'n MiG-21 Lancer C van die Roemeense Lugmag | |
Tipe | Onderskepvegter |
Vervaardiger | Mikojan |
Ontwerp deur | Artem Mikojan |
Nooiensvlug | 14 Februarie 1956 |
Vrygestel | 1959 |
Status | Beperkte diens |
Hoofgebruikers | Russiese Lugmag Siriese Lugmag Indiese Lugmag Libiese Lugmag |
Vervaardig | 1959 (MiG-21F) tot 1985 (MiG-21bis) |
Aantal gebou | 11,496 (10,645 in die Sowjetunie, 657 in Indië, 194 in Tsjeggo-Slowakye) |
Sy bynaam is "Balalaika", a.g.v. die vliegtuig se ooreenkoms in vorm met die Russiese musiekinstrument, en volgens Poolse vlieëniers te danke aan die vorm van die romp.[1]
Vroeë weergawes was tweedegeslag vegvliegtuie, terwyl latere weergawes beskou word as derdegeslag vegvliegtuie. Ongeveer 60 lande oor vier kontinente het met MiG-21's gevlieg, en 'n halfeeu na sy eerste vlug is hy nog steeds in baie lande se diens. Die vegter hou verskeie lugvaartrekords, by name is dit die mees-vervaardigde supersoniese straalvliegtuig in lugvaartgeskiedenis. Dit is ook die mees-vervaardigde vegvliegtuig sedert die Koreaanse Oorlog en het ook voorheen die langste produksieloop van 'n vegvliegtuig (1959-1985 oor al die modelle) gehad. Dit is nou oortref deur beide die McDonnell Douglas F-15 Eagle en General Dynamics F-16 Fighting Falcon).
In verslae van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) word na die MiG-21 as Fishbed verwys.