Muswell Hill
From Wikipedia, the free encyclopedia
Muswell Hill is 'n voorstad in die noorde van Londen wat grotendeels in die groen distrik London Borough of Haringey, sowat 9 kilometer noord van Charing Cross en 9 kilometer noord van die City of London, tussen die vermaakplek Alexandra Palace en Highgate Woods geleë is. Muswell Hill is op meer as 100 meter bo seevlak een van die hoogste punte in Groter Londen en staan vir sy skoon vars lug bekend. Alhoewel twee besige winkelstrate, Broadway en Fortis Green Road, deur die voorstad loop, het die buurt steeds sy landelike dorpskarakter bewaar.
Muswell Hill | |
---|---|
Voorstad | |
Muswell Hill se Broadway | |
Koördinate: 51°35′31″N 0°08′35″W | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land | Engeland |
Graafskap | Groter Londen |
Borough | Haringey |
Tydsone | UTC±00:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+01:00 (BST) |
Poskode | N10 |
Skakelkodes | 020 |
Die meeste woonhuise in die gebied dateer uit die Edwardiaanse tydperk, met enkele Victoriaanse asook huise uit die 1920's en 1930's daartussen. Terwyl ook baie woonstelgeboue ontstaan het en groter woonhuise in woonstelle opgedeel is, het die groot vraag na ruim gesinshuise daartoe gelei dat ou huise tans weer in hul oorspronklike glorie as enkelgesinshuise herstel word. Groot dele van die gebied is vanweë sy voortreflike voorbeelde van Edwardiaanse boukuns tot bewaringsgebied verklaar.[1] So het ook die Edwardiaanse voorkoms van Broadway en Fortis Green Road bewaar gebly.
As gesogte voorstad lok Muswell Hill tans huiskopers uit die professionele middelklas wat onder meer in die kreatiewe of mediabedryf werksaam is. 'n Bekende vroeëre bewoner was Oliver Tambo wat dekades lank as ANC-leier gedien het. Tambo het tussen 1960 en 1990 'n Edwardiaanse huis met drie verdiepings bewoon wat ook as vergaderplek vir ANC-aktiviste gedien het. Gedurende sy staatsbesoek in die Verenigde Koninkryk het die Suid-Afrikaanse president Jacob Zuma in 2010 'n besoek aan die huis gebring. Dit is nog in dieselfde jaar deur die Suid-Afrikaanse regering vir ₤1,7 miljoen gekoop om as woning vir 'n senior personeellid van die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissie in Londen te dien.[2]