Nagwolf
'n persoon wat geneig is om tot laat in die nag wakker te bly / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Nagwolf, naguil of nagloper is die benaming wat aan ’n persoon toegeskryf word wat die neiging het om tot laat in die aand wakker te bly. ’n Woord-eweknie vir hierdie omskrywing is aandmens.
Die benaming kan aan die hoofsaaklik nagtelike gewoontes van die wolf of uil toegeskryf word. Gewoonlik bly mense wat nagwolwe is tot ná middernag wakker, terwyl hulle in uiterste gevalle tot net voor of ná sonsopkoms aan die gang bly. Naguile het die neiging om die meeste bedrywig of werklustig te voel voordat hulle gaan slaap in die aand.
Party nagwolwe het ’n voorkeur of neiging om tot laat wakker te bly, of om nagskofte te werk. Naguile wat dagskof onderneem, het dikwels die moeilikheid om betyds by hul werk op te daag. Sommige nagwolwe wat dit bitter moeilik vind om by die normale slaap- en opstaanpatrone aan te pas, kan aan die "uitgestelde slaapfasesindroom" ly.
Die teenoorgestelde van ’n naguil is ’n vroegopstaner, wie geneig is om teen ’n sekere tyd, wat gewoonlik as ‘vroeg’ bestempel word, te gaan slaap, sowel as om vroeg uit die vere te wees. In etlike lande word vroegopstaners as “A-mense” bestempel, terwyl nagwolwe “B-mense” genoem word. [1][2] Navorsers gebruik gewoonlik die terme ‘morningness’ (oggendheid) en ‘eveningness’ (aandheid). [3]