Piëso-elektrisiteit
From Wikipedia, the free encyclopedia
Piëso-elektrisiteit is die vermoë van sommige materiale (veral kristalle en sekere keramieke) om 'n elektriese potensiaalverskil te veroorsaak[1] wanneer daar 'n meganiese spanning daarop uitgeoefen word. Dit kan die vorm neem van 'n skeiding van elektriese lading oor 'n kristalrooster. As die materiaal nie gekortsluit word nie, veroorsaak die uitgeoefende spanning 'n elektriese potensiaalverskil oor die materiaal. Die woord is afgelei van die Griekse woord piezein wat om te druk of te pers beteken.
Die piëso-elektriese effek is omkeerbaar deurdat materiale wat die direkte piëso-elektriese effek vertoon (die ontstaan van 'n elektriese potensiaalverskil onder meganiese spanning) ook die omgekeerde piëso-elektriese effek (die ontstaan van meganiese spanning wanneer 'n elektriese veld toegepas word). Loodzirkontitanaatkristalle sal byvoorbeeld 'n vervorming van ongeveer 0.1% ondergaan (vergeleke met oorspronklike vorm) wanneer sodanige elektriese spanning daarop uitgeoefen word.
Die verskynsel word nuttig ingespan in toepassings soos die produksie en nasporing van klanke, die skep van hoë spannings, die skepping van hoë elektroniese frekwensies, mikro-weegskale en ultrafyn verstellings aan die fokus van optiese samestellings. Dit vorm ook die basis van verskeie wetenskaplike instrumentele tegnieke.