T20I-wêreldbeker 2010
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2010 (Engels: 2010 ICC World Twenty20) is van 30 April tot 16 Mei 2010 in Wes-Indië beslis. Dit was die derde T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2010 genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions gespeel. Dit was ná die Krieketwêreldbeker 2007 die tweede groot kriekettoernooi in Wes-Indië.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2010 | |
Datums | 30 April – 16 Mei |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Agt en uitklopfase |
Gashere | Wes-Indië |
Kampioen | Engeland (1ste titel) |
Naaswenner | Australië |
Deelnemers | 12 (20 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 27 |
Speler van die reeks | Kevin Pietersen |
Meeste lopies | Mahela Jayawardene (302)[1] |
Meeste paaltjies | Dirk Nannes (14)[2] |
← 2009 2012 → |
Hoewel die T20I-wêreldbeker sedert die eerste toernooi in 2007 al om die twee jaar gehou is, is die in 2010 beplande EDI-toernooi Kampioenetrofee in Wes-Indië in ’n T20I-formaat omgeskep nadat die Kampioenetrofee 2008 in Pakistan weens veiligheidskwessies uitgestel en die internationale kriekettoernooikalender aangepas moes word. Vervolgens het die T20I-wêreldbeker 2010 net tien maande ná die vorige T20I-wêreldbeker 2009 plaasgevind.[4]
Die toernooi se formaat van 2007 en 2009 het onveranderd gebly en twaalf nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2010 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die wenners van die kwalifisering (Afghanistan en Ierland). Tydens die T20I-wêreldbeker 2010 is 27 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, twaalf in die Super Agt en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van drie spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer. In die Super Agt is die spanne in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Australië, Engeland, Pakistan en Sri Lanka het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het die verdedigende wêreldkampioen Pakistan en Engeland het Sri Lanka geklop, waardeur vir die eerste keer in dié toernooi se geskiedenis geen Suid-Asiatiese span die eindstryd gehaal het nie. Engeland het Australië in die eindstryd op Kensington-ovaal in Bridgetown, Barbados, met sewe paaltjies verslaan en sodoende sy eerste internasionale kriekettitel ingepalm.[5] Beide die gasheer Wes-Indië en Suid-Afrika is in die Super Agt uitgeskakel.