T20I-wêreldbeker 2024
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2024 (Engels: 2024 ICC Men's T20 World Cup) word van 1 tot 29 Junie 2024 in die Verenigde State en Wes-Indië beslis.[1] Dit is die negende T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste kriekettoernooi nog in die Verenigde State, terwyl Wes-Indië voorheen die 2010-toernooi aangebied het. Daarbenewens is die Verenigde State die eerste medegasheer in die Amerikas buite Wes-Indië.[2] Die vyf Karibiese eilandstate Antigua en Barbuda, Barbados, St. Lucia, St. Vincent en die Grenadine en Trinidad en Tobago, asook Guyana en die Verenigde State tree gesamentlik as gashere van dié toernooi op, meer as by enige ander T20I-wêreldbekertoernooi. Dit is ná die Krieketwêreldbeker 2007 en die T20I-wêreldbeker 2010 die derde groot kriekettoernooi in Wes-Indië.
Die artikel beskryf ’n sportgebeurtenis wat in die toekoms gaan plaasvind. Die inligting is moontlik spekulatief en kan vinnig verander soos data beskikbaar raak. |
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2024 | |
Datums | 1 Junie – 29 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Verenigde State Wes-Indië |
Deelnemers | 20 (83 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 55 |
← 2022 2026 → |
Die T20I-wêreldbeker 2024 is die eerste toernooi met 20 deelnemende nasionale krieketspanne, teenoor die 16 van die vorige vier T20I-wêreldbekertoernooie. Die 20 deelnemende nasionale krieketspanne is: Die twee gashere (die Verenigde State en Wes-Indië), die agt beste spanne van die vorige toernooi (Australië, Engeland, Indië, Nederland, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Suid-Afrika), saam met die twee naasbeste spanne op die T20I-ranglys soos op 14 November 2022 (Afghanistan en Bangladesj) en die wenners van die kontinentale kwalifiseringstoernooie.[3] In Julie 2023 het Ierland en Skotland die twee Europese plekke bepreek, terwyl Papoea-Nieu-Guinee die Oos-Asiatiese-Stille-Oseaan-plek bespreek het. In Oktober 2023 het Kanada as Amerikaanse kwalifiseerder gevolg en een maand later Nepal en Oman as Asiatiese kwalifiseerders, asook Namibië en Uganda as Afrikakwalifiseerders. Engeland is die verdedigende wêreldkampioen nadat hulle die T20I-wêreldbeker 2022 gewen het.
Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 word 55 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die eerste rondte, twaalf in die Super Agt, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne word in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep speel. Die twee beste spanne van elke groep kwalifiseer hierna vir die Super Agt, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte kwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd bestaan uit 20 boulbeurte per span. Die agt beste spanne van die T20I-wêreldbeker 2024 sal saam met die twee gashere van die 2026-toernooi regstreeks vir die volgende T20I-wêreldbeker 2026 in Indië en Sri Lanka kwalifiseer.