Krieketwêreldbeker 2015
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 2015 (Engels: 2015 Cricket World Cup) is van 14 Februarie tot 29 Maart 2015 in Australië en Nieu-Seeland beslis. Dit was die elfde krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die tweede in Oseanië. Albei gashere het ook die Krieketwêreldbeker 1992 saam gehuisves.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 2015 | |
Datums | 14 Februarie – 29 Maart |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Australië Nieu-Seeland |
Kampioen | Australië (5de titel) |
Naaswenner | Nieu-Seeland |
Deelnemers | 14 (24 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 49 |
Bywoning | 1 016 420 (20 743 per wedstryd) |
Speler van die reeks | Mitchell Starc |
Meeste lopies | Martin Guptill (547)[1] |
Meeste paaltjies | Mitchell Starc Trent Boult (22 elk)[2] |
← 2011 2019 → |
Die toernooi se formaat van 2011 het onveranderd gebly en 14 nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2015 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die twee beste spanne van die Wêreldkrieketligakampioenskap 2011–13 (Afghanistan en Ierland), asook die twee beste spanne van die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 (Skotland en die Verenigde Arabiese Emirate). Tydens die Krieketwêreldbeker 2015 is 49 wedstryde gespeel, waaronder 42 tydens die groepfase, en sewe in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van sewe elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die vier beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.
Australië het die eindstryd op Melbourne-krieketveld in Melbourne teen Nieu-Seeland met sewe paaltjies gewen en sodoende sy vyfde titel ingepalm. Australië het ná Indië in 2011 die tweede agtereenvolgende gasheer geword wat die krieketwêreldbekertoernooi tuis gewen het. Daarbenewens was dit die eerste eindwedstryd in dié toernooi se geskiedenis wat twee Oseaniese spanne – en van die Suidelike Halfrond – gesien het.[3] Melbourne-krieketveld het ná Lord’s in Londen die tweede krieketstadion geword wat die krieketwêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 1992-toernooi – gehuisves het.[4] Die verdedigende kampioen Indië en Suid-Afrika was die ander twee semi-finaliste. Afghanistan het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit is tot dusver die enigste krieketwêreldbeker waaraan ses Asiatiese spanne deelgeneem het.
Met sowat 2,2 miljard televisiekykers wêreldwyd was die Krieketwêreldbeker 2015 die tweede mees gesiene krieketwêreldbekertoernooi, net ná die Krieketwêreldbeker 2019.[5] Die wedstryd tussen die aartsvyande Indië en Pakistan op 15 Februarie 2015 te Adelaide-ovaal in Adelaide het sowat een miljard televisiekykers gelok.[6][7]