Pluto
dwergplaneet in die Sonnestelsel, voorheen as die negende planeet beskou / From Wikipedia, the free encyclopedia
Pluto, ook bekend as 134340 Pluto, is die grootste bekende dwergplaneet in die Sonnestelsel en die een met die tweede grootste massa (naas Eris). Dit is die negende grootste liggaam wat direk om die Son wentel.
- Hierdie artikel handel oor die dwergplaneet Pluto. Vir ander betekenisse van die naam, sien Pluto (dubbelsinnig).
Pluto in byna ware kleur, soos waargeneem deur die New Horizons-ruimtetuig op 'n afstand van 450 000 km. | |||||||
Ontdekking | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Ontdek deur | Clyde W. Tombaugh | ||||||
Datum | 18 Februarie 1930 | ||||||
Kleinplaneet-benaming | 134340 Pluto | ||||||
Kleinplaneet-kategorie | Dwergplaneet Trans-Neptunus-voorwerp Kuiper-gordelvoorwerp | ||||||
Etimologie | Pluto | ||||||
Wentelbaaneienskappe | |||||||
Epog J2000 | |||||||
Afelium | 7 311 000 000 km 48,871 AE | ||||||
Perihelium | 4 437 000 000 km 29,657 AE[1] | ||||||
Halwe lengteas | 5 874 000 000 km 39,264 AE | ||||||
Wentelperiode | 90 613,305 dae 248,09 jaar | ||||||
Sinodiese periode | 366,73 dae | ||||||
Gem. omwentelingspoed | 4,666 km/s | ||||||
Baanhelling | 17,141 75° 11,88° (tot die Son se ewenaar) | ||||||
Lengteligging van stygende nodus | 110,303 47° | ||||||
Periheliumhoek | 113,763 29° | ||||||
Natuurlike satelliete | 5 | ||||||
Fisiese eienskappe |
|||||||
Gem. radius | 1 185 ± 10 km (0,18 R⊕) 1 161 km[2] (solied) | ||||||
Oppervlakte | 1,7657 km2 (0,035 Aardes) | ||||||
Volume | 6,979 km3 0,0064 Aardes) | ||||||
Massa | (1,305 ± 0,007)22 kg (0,00218 M⊕) (0,178 mane) | ||||||
Gem. digtheid | 1,87 g/cm3[3] | ||||||
Ontsnapping- snelheid | 1,212 km/s | ||||||
Sideriese rotasieperiode | −6,387 230 dae 6 d 9 h 17 m 36 s | ||||||
Rotasiespoed by ewenaar | 47,18 km/h | ||||||
Ashelling | 119,591 ± 0,014° (tot wentelbaan) | ||||||
Regte styging van noordpool | 312,993° | ||||||
Deklinasie | 6,163° | ||||||
0,49–0,66 (geometries, varieer by 35%)[4][5] | |||||||
Oppervlak-temp. Kelvin |
| ||||||
Skynmagnitude | 13,65[5] tot 16,3[6] (hoof is 15,1)[5] | ||||||
Absolute magnitude | −0,7[7] | ||||||
Hoekgrootte | 0,065" tot 0,115"[5] | ||||||
Atmosfeer | |||||||
Oppervlakdruk | 0,30 Pa (somer-maksimum) | ||||||
Samestelling | stikstof, metaan, koolstofmonoksied[8] |
Van die oomblik van sy ontdekking in 1930 tot in 2006 is Pluto as die Sonnestelsel se negende planeet beskou. In die laat 20ste en vroeë 21ste eeu is baie voorwerpe soortgelyk aan Pluto in die buitenste dele van die Sonnestelsel ontdek, waaronder die verstrooideskyfvoorwerp Eris. Op 24 Augustus 2006 het die Internasionale Sterrekundevereniging (IAU) die term "planeet" vir die eerste keer gedefinieer. Hierdie definisie het Pluto van sy titel as planeet ontneem en dit is in 'n nuwe kategorie, dwergplanete, geklassifiseer saam met Ceres, Haumea, Makemake en Eris.[9] Ná die herklassifisering is Pluto ook op die lys kleinplanete gevoeg en is die nommer 134340 aan hom toegewys.[10][11] Sommige sterrekundiges meen Pluto, asook van die ander dwergplanete, behoort as planete beskou te word.[12][13]
Pluto kom in die Kuipergordel voor en soos ander lede van die gordel, bestaan dit hoofsaaklik uit rots en ys en is dit relatief klein: sy massa is ongeveer 'n vyfde van die Aarde se maan s'n en sy volume 'n derde. Sy deursnee is 2 370 km.[14] Pluto is kleiner as sewe mane in die Sonnestelsel en het 'n eksentrieke wentelbaan met 'n hoë inklinasie wat wissel van 29 tot 49 AE (4,3–7,3 miljard km) van die Son af. Dit is soms nader aan die son as die planeet Neptunus.
Op 14 Julie 2015 was die ruimtetuig New Horizons die eerste tuig wat by Pluto verbygevlieg het.[15][16][17][18] Dit het vir Nasa mates en foto's van Pluto en sy mane geneem.[19][20] Daar is onder meer vasgestel Pluto is 50 km groter as wat aanvanklik bereken is, en dus groter as Eris.
Pluto en sy grootste natuurlike satelliet, Charon, word dikwels as 'n dubbelstelsel beskou omdat die twee liggame om hul massamiddelpunt wentel en nie om mekaar nie.[21] Die IAU het egter nog nie 'n formele definisie vir tweeledige dwergplanete nie en tot dan bly Charon 'n maan van die dwergplaneet Pluto.[22] Pluto het ook vier kleiner mane, onder meer Nix en Hidra, wat in 2005 ontdek is.[23] Op 28 Junie 2011 het die Hubble-ruimteteleskoop Kerberos ontdek[24] en op 11 Julie 2012 die laaste maan, Styx.[25]