Groot Magellaanse Wolk
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Groot Magellaanse Wolk (GMW) is ’n satellietsterrestelsel van die Melkweg.[4] Op ’n afstand van sowat 163 000 ligjare[2][5][6][7] is dit die naaste sterrestelsel aan die Melkweg naas die Sagittarius- Elliptiese en die moontlike Canis Major-dwergsterrestelsel (onderskeidelik 65 000 en 25 000 ligjare van hier). Gebaseer op die sigbare sterre en ’n massa van sowat 10 miljard sonmassas (M☉), is die deursnee van die GMW sowat 14 000 ligjare; dit is rofweg ’n honderdste van die Melkweg se deursnee.[3] Dit maak die GMW die vierde grootste sterrestelsel in die Plaaslike Groep (naas die Andromeda-sterrestelsel, die Melkweg en die Driehoek-sterrestelsel).
Groot Magellaanse Wolk | ||||
Sterrebeeld | Swaardvis en Tafel | |||
Tipe | SB(s)m[1] | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 05h 23m 34.5s[1] | |||
Deklinasie | -69° 45′ 22″[1] | |||
Besonderhede | ||||
Afstand (ligjaar) | 163 000 (49 970 parsek)[2] | |||
Skynbare grootte | 10,75° × 9,17°[1] | |||
Massa | 1010[3] | |||
Ander name | LMC, ESO 56- G 115, PGC 17223,[1] | |||
Lugkoördinate | ||||
05h 23m 34.5s, −69° 45′ 22″ | ||||
|
Die GMW word geklassifiseer as ’n Magellaanse spiraalstelsel.[8] Dit bevat ’n staaf sterre wat geometries weg van die middel lê, wat daarop dui dat dit ’n dwergspiraalstelsel met ’n staaf was voordat sy spiraalarms versteur is, moontlik deur wisselwerkings met die swaartekrag van die Klein Magellaanse Wolk (KMW) en die Melkweg.[9]
Met ’n deklinasie van sowat -70° is die GMW vanuit die Suidelike Halfrond as ’n dowwe "wolk" sigbaar. Dit lê in die sterrebeelde Swaardvis en Tafel en het in donker gebiede weg van ligbesoedeling ’n skynbare lengte van sowat 10° vir die blote oog, 20 keer die deursnee van die Maan.[10]
Daar word voorspel dat die GMW en die Melkweg oor sowat 2,4 miljard jaar sal bots.[11]