Plaaslike Groep
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Plaaslike Groep is die groep sterrestelsels wat ons Melkweg insluit. Dit bestaan uit meer as 50 stelsels (insluitende dwergsterrestelsels) en sy swaartekragmiddelpunt lê iewers tussen die Melkweg en die Andromeda-sterrestelsel. Die sterrestelsels van die Plaaslike Groep het ’n deursnee van 10 miljoen ligjare en ’n geraamde massa van 1,29±0,14 ×1012 sonmassas (M☉). Die groep is deel van die Plaaslike Superswerm, ook genoem die Virgo-superswerm.[1]
Die grootste twee lede van die groep is die Melkweg en die Andromeda-sterrestelsel, albei spiraalvormige stelsels met ’n eie stelsel satellietgalaktikas.
- Die Melkweg se satellietstelsel bestaan uit die Sagittarius-dwergsterrestelsel, Groot en die Klein Magellaanse Wolk, Canis Major-, Ursa Minor-, Draco-, Carina-, Sextans-, Sculptor-, Fornax-, Leo I-, Leo II-, Ursa Major I- en Ursa Major II-dwergsterrestelsel.
- Andromeda se satellietstelsel bevat M32, M110, NGC 147, NGC 185 en Andromeda I tot Andromeda XX.
- Die Triangulum-sterrestelsel, die derde grootste een in die Plaaslike Groep, is dalk deel van die Andromeda-stelsel of dalk nie. Pisces-dwerg is ewe ver van Andromeda en Triangulum en kan ’n satelliet van enigeen van die twee wees.
- Dit is onseker waartoe NGC 3109, asook sy metgeselle Sextans A en die Antlia-dwerg behoort, weens hul groot afstand van die middel van die Plaaslike Groep af.
Die ander lede van die groep is wat swaartekrag betref afgesonder van hierdie groot subgroepe: IC 10, IC 1613, Phoenix-dwerg, Leo A, Tucana-dwerg, Cetus-dwerg, Pegasus-dwerg, Wolf-Lundmark-Melotte, Aquarius-dwerg en Sagittarius-dwerg.